MOSSELBAAI NUUS - Na afloop van 'n besoek aan die provinsiale hospitaal in Mosselbaai en gesprekke met onder meer nooddienstepersooneel, het burgemeester, Dirk Kotzé, sy kommer uitgespreek oor uitdagings wat nooddienste (EMS) in die gesig staar.
Tydens die sessie, sê hy, het EMS-personeel verskeie uitdagings genoem insluitend die misbruik van ambulansdienste vir nie-noodgevalle, die groot area wat gedek word, en ook 'n tekort aan personeel.
Maar wat regtig opmerklik was, "is hoe toegewyd en positief hierdie professionele mense bly ondanks die uitdagings van hul werk", sê hy.
Hy sê die frustrasie aan die publiek en EMS se kant is verstaanbaar.
"Die beperkte aantal ambulanse wat die groter Mosselbaai-area dek, is 'n werklike bekommernis. My kantoor gaan dus met die provinsiale gesondheidsdepartement kontak maak om die saak aan te spreek en moontlike oplossings voor te stel."
Hy sê personeel het onder meer voorgestel dat 'n satelliet-ambulansstasie in Groot-Brak opgerig word. Die fasiliteite is reeds daar beskikbaar en dit is dus 'n praktiese volgende stap.
Kotzé sê hulle ondersteun voorstelle wat EMS gemaak het en sal dit aan die provinsiale LUR vir gesondheidsdienste, Minister Mireille Wenger, oordra.
Departement reageer
By navraag oor dié kwessies het die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand gesê hy erken die kommer wat uitgespreek is rakende nooddienste in die Mosselbaai-gebied.
"Mosselbaai word tans deur 'n toegewyde EMS-span van 20 operasionele personeel bedien, wat oor vier skofte werk om 24-uur beskikbaarheid te verseker. Daarbenewens is twee reddingstegnici byderhand vir voorvalle wat tegniese reddingskundigheid vereis, en drie personeellede verskaf beplande pasiëntvervoer vyf dae per week.
"Om langerafstand-oorplasings te ondersteun, bedryf die distrik twee 23-sitplek busse wat daagliks (Maandag tot Vrydag) van George na Kaapstad vertrek, wat pasiënte in staat stel om toegang tot gespesialiseerde sorg te verkry."
Die diensarea dek die N2 tot by Gouritsmondbrug (ongeveer 36 km van Mosselbaai) en strek suid tot by Groot-Brak. Dit sluit verskeie landelike gemeenskappe soos Herbertsdale, Friemersheim, Ruiterbos, Brandwag en Buisplaas in.
"Ons gaan voort om sorg na die beste van ons vermoë te verskaf terwyl ons bevolkingsgroei en sosio-ekonomiese druk bestuur, wat aanvraag kan verhoog."
Nooddienste slegs vir dringende situasies
Die departement sê ook om plaaslike noodreaksie te versterk, het hy inisiatiewe geïmplementeer wat gemeenskapslede met basiese noodhulp- en lewensondersteuningsvaardighede toerus wat hulle kan toepas tot professionele hulp opdaag.
"Ons werk ook nou saam met belanghebbendes om toegang tot noodsorg in die gebied te verbeter.
"Ons EMS-spanne bly ten volle operasioneel en reageer so vinnig as moontlik op kritieke gevalle. Stelselwye aanvraag kan egter soms reaksietye beïnvloed.
"Ons vra dus inwoners om nooddienste slegs in dringende of lewensgevaarlike situasies te ontbied, wat sal help verseker dat kritieke gevalle betyds aandag kry. Ons bedank alle gemeenskappe vir hul voortgesette ondersteuning en begrip."
Oor 'n satellietstasie sê die departement daar is tans geen goedgekeurde plan om een in Groot-Brak te vestig nie.
"Ons departement gaan voort om met vennote en belanghebbendes te skakel om opsies te ondersoek wat dienslewering verbeter."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’