MOSSELBAAI NUUS - Anne Swart van Mosselbaai se kuiertjie in Nieu-Seeland is noodgedwonge verleng toe die staat vir inperking in Suid-Afrika aangekondig is.
Sy en haar man Johan kuier tans by hulle kinders en het op sosiale media met die Mossel Bay Advertiser kontak gemaak.
"Dit is regtig verstommend hoeveel SAners vasgekeer het en die regering se hulp soek. Ons in die gelukkige posisie dat ons by ons kinders is, maar in die tye soos hierdie wil mens maar by jou huis wees."
Hulle het op 3 Februarie vertrek en sou op 6 April na Suid-Afrika terugkeer.
Sy vertel dat die Nieu-Seelanders regtig gedissiplineerd is en Covid-19-regulasies nougeset volg. "TV kanale saai gereeld kennisgewings uit en mense ontvang gereeld opgedateerde inligting. Omdat Johan ouer as 70 is mag hy nie die huis verlaat nie, behalwe vir mediese redes. Ons is tans op 'n WhatsApp-groep vir Suid-Afrikaners in Australië en Nieu-Seeland wat ook wil huis toe gaan. Daar is sowat 220 mense wat wag om te hoor van repatriasie."
Sy noem ook van 'n facebookgroep, Home Away From Home, waarheen ander Suid-Afrikaners gestrand in die buiteland, hul toevlug vir ondersteuning neem.
Anne en Johan se name is geregistreer by die Hoë Kommisaris van Suid-Afrika in Wellington. Hulle wag nou om te hoor wanneer julle kan terugvlieg.
"Geen vliegtuie mag vlieg nie en ons retoervlug was met Qantas bespreek. Ons skerts en sê as Kobus Crous met sy helikopter kon help, was ons al weg. Of dalk Laerskool Park se twee oudleerders wat nou loodse by Mango is. Hulle sou hul *juffrou kom haal. So ons klompie hier Down Under en at the back of the earth soos my kleinseun sê, soek nou net 'n vliegtuig!"
* Anne Swart is 'n oud-onderwyseres van Laerskool Park.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'