Sy het die feesorganiseerders, die Mosselbaai Munisipaliteit en Mosselbaaiers geluk gewens met die fees se credo: 'Waar kulture ontmoet', en het trots gesê sy is die enigste premier van 'n provinsie in Suid-Afrika wat 'n fees kan bywoon waar al die kulture van die omgewing, soos ook internsasionale kulture se invloed op die plaaslike gemeenskappe, gevier kan word.
Premier Zille het ook na die durf en deursettingsvermoë van Bartolomeu Dias verwys. "Hier, in 1488, het Dias en sy gevolg vir die eerste keer met die mense van die Khoi en die San kennis gemaak, en het hulle vir die eerste keer Europeërs ontmoet," het sy na Dias se landing in wat vandag as Mosselbaai bekend is, verwys.
Hier het wyd-uiteenlopende kulture werklik vir die eerste keer ontmoet.
"In die tyd toe Dias sy vaderland verlaat het, het die mensdom nog geglo die aarde is plat. As jy oor die horison sou vaar, sal jy van die aarde afval.
Tog het Dias en sy seevaarders durf, ongekende moed, aan die dag gelê." So is die grondslag vir Suid-Afrika se geskiedenis gebou.
"Suid-Afrikaners het daardie moed en durf in ons murg. Geen ander land in die wêreld kon met wyd uiteenlopende kulture en agtergronde die demokrasie laat werk soos hier nie. Soos Dias, het ons die moed om die demokrasie te laat werk. Die uitdaging is om mekaar te vind," het me Zille gesê.
Onder groot applous het me Zille almal genooi om die fees ten volle te geniet. "Waar kry 'n mens iets nog gratis? Die Diasfees bied aan almal die feesverrigtinge gratis: internasionale vermaak soos 'n lugskou sal elders tot R500 per persoon beloop; hier is dit gratis! Emo Adams for Free - wat 'n voorreg!"
Ontdek mekaar
Me Zille het haar toespraak afgesluit deur die gemeenskap die uitdaging te stel: "Kom ons ontdek mekaar!"
Na afloop van haar toespraak het feesgangers meegeding om 'n kans om 'n foto met die Premier van die Wes-Kaap te kan neem. Me Zille het met groot geduld met almal 'n woordjie gewissel, selfs in isiXhosa!
Na die openingsverrigtinge is feesgangers vergas op 'n skouspelagtige lugvertoning en vuurwerkvertoning wat, ten spyte van sterk wind, mense na hul asems laat snak het.

Voormalige Presidente van die Mossel Bay Rotariërs Kate Baker (links) en Mika Lutchman is tydens die openingsgeleentheid saam met die Premier van die Wes-Kaap, mev Helen Zille, en die Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, in die feesterrein gefotografeer.
Mosselbaaiers het met hul selfone tou gestaan vir 'n kansie om vinnig 'n foto saam met die Premier, me Helen Zille, en Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, te neem.

Mosselbaaiers het met hul selfone tou gestaan vir 'n kansie om vinnig 'n foto saam met die Premier, me Helen Zille, en Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, te neem. Foto's: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'