MOSSELBAAI NUUS - Elize Barnardt en haar man, Barend, het 13 jaar gelede ná 'n leeftyd van kinders grootmaak en woeker in Kimberley in Mosselbaai kom aftree. Aftrede het egter vir hierdie formidabele vrou vinnig in aantree verander.
Ná verdere studies in pastorale narratiewe terapie was Elize een van die stigterslede van Caritas Care Mosselbaai, wat reeds die afgelope 10 jaar opleiding in Mosselbaai aanbied.
Elize se lewensleuse is: "Naaste- diens gee my bestaansreg." Om te netwerk, 'n verskil in mense se lewens te maak en 'n positiewe bydrae tot die breër gemeenskap te lewer, gee haar energie.
Vertel ons 'n bietjie van jouself - wie is jy en wat doen jy?
Ek het 'n paar hoede op. Eerstens is ek 'n vrou vir my man, ma vir my twee liewe kinders en ouma vir drie dierbare kleuter-kleinkinders. Almal is in die Kaap.
Ek is 'n pastorale narratiewe terapeut by die NG Moedergemeente Mosselbaai en tans die nasionale president van die Dameskring, 'n Afrikaanse kultuurorganisasie vir Christenvroue wat pas 'n geskiedenisboek uitgebring het waarin 58 jaar se uitreik, omgee en verskilmaak opgeteken is. Ek is al 28 jaar lid.
Hoe lank woon jy al in die Mosselbaai-omgewing?
My man is hier gebore, en ná 28 jaar in Kimberley was dit maklik om te besluit waar ons wil kom aftree. Ons is reeds 13 jaar in Mosselbaai gevestig.
Toe ons ons wortels in Kimberley losgemaak het, het ek gewonder of ons nou klaar geleef het. Binne 12 maande was ons egter ingeburger en gevestig in 'n gemeente en 'n gemeenskap - en gelukkiger as ooit.
Wat is jou gunstelingding van Mosselbaai?
Mag ek twee goed sê? Die wonderlike mense en die pragtige omgewing. Ek waardeer beide nog elke dag.
Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
Ek stap graag met sonsopkoms, winter en somer. Die asemrowende omgewing - of ons nou bo-op die kop, onder om die Punt tot by Santos en terug, of sirkelroetes in Hartenbos stap - elke dag is anders en prentjiemooi.
Die Here se skilderdoek is elke dag 'n seëning. Ek lees ook baie, van vakliteratuur tot die boeke vir die Dameskring se boekklub. Die Dameskring gee my ook dikwels geleenthede om met woorde te ploeg.
Wat is iets van jou wat mense dalk nie weet nie?
Ek hou van spoed, en die petrol in my persoonlike tenk raak nooit op nie.
Wie of wat het die grootste invloed op jou lewe gehad?
My lewensreis is besaai met sielsgenote en mentors - vrouegenote wat my aangemoedig het om my onontginde potensiaal te ontsluit, en geesgenote wat vir mekaar en ander omgee.
Waarop is jy die trotsste in jou lewe?
Dat ons deur genade 'n goeie lewe ontgin het en 'n nalatenskap gelaat het in die mense wat ons kinders geword het.
Wat is iets wat jy nog graag wil bereik of doen?
Ek het meer drome en idees as wat ek tyd het. Ek het groot ideale vir die termyn wat ek tans binne die Dameskring beklee. Die organisasie het so baie om te bied, en ek wil graag sien dat nog baie meer vroue baatvind by ons leuse: Inspireer, Bemagtig en Bou.
Ons het 'n vlagskipprojek wat voorskoolse kinders waardes leer. Ek wil nog baie graag dié projek wyd en syd in die Wes-Kaap en verder in Suid-Afrika uitrol.
As jy enige persoon vir koffie kon nooi, wie sou dit wees en hoekom?
Iemand soos Zelda le Grange, want sy het so na aan Nelson Mandela geleef dat sy bedagsaamheid, sy simpatie en sy verdraagsaamheid haar menswees verander het.
Sy verstaan die breër prentjie, is diensbaar en neem aktief deel aan gemeenskappe om Suid-Afrika 'n wonderlike plek vir alle mense te maak.
Wat is een ding wat jy graag vir die mense van Mosselbaai wil sê?
Iemand het eendag die opmerking gemaak: "Mosselbaai is halfpad op pad hemel toe." Ons moet dit bewaar, geniet en waardeer.
Nomineer ons volgende 'Ons Mens'
Wil jy iemand vir hierdie weeklikse rubriek nomineer? Dit kan enigiemand in die Mosselbaai-omgewing wees wat volgens jou 'n positiewe verskil in ons gemeenskap maak.
Stuur jou nominasie na [email protected] of WhatsApp dit na 072 599 8533. Sluit asseblief die volgende in: die naam van die persoon wat jy nomineer; die rede vir jou nominasie; jou kontakbesonderhede; en die genomineerde se kontakbesonderhede.
Wie weet - dalk is jou plaaslike held ons volgende Ons Mens!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’