MOSSELBAAI NUUS - Nog een van Mosselbaai se dogters spog dalk binnekort met ‘n besonderse skoonheidstitel.
Farren Jacobs is benoem as ‘n finalis in die Miss Regal International South Africa-kompetisie waarvan die galageleentheid en kroning op 23 Oktober in Johannesburg plaasvind.
Bo en behalwe modelwerk wat haar hart sedert kleintyd warm laat klop, wou sy graag, soos haar ma, ‘n onderwyser word. Vandag, is sy ‘n gekwalifiseerde onderwyser wat nie net belangstel in kurrikulum-onderrig nie, maar graag kinders wil help vorm en voorberei vir die wêreld wat eendag op hulle wag. Sy het as jong kind by ACE Models in Mosselbaai aangesluit wat haar destyds omtrent besig gehou het.
Die kompetisie waaraan sy tans deelneem is gekoppel aan die nie-regeringsorganisasie, POWA (People Opposing Woman Abuse).
“POWA help en bied beskerming aan mishandelde vroue en kinders. As deel van ons verantwoordelikheid as ‘n Miss Regal-finalis het POWA ‘n wenslysie aan ons gestuur waarvoor ons tans donasies vra.” Farren sê dat haar deelname aan die kompetisie haar vrygemaak het van al die onsekerhede in haarself wat haar jarelank teruggehou het.
“My deelname is ook ‘n boodskap aan ander meisies van my klein dorpie om te wys dat mens jou drome nie moet opgee nie. In Markus 9:23 staan, Everything is possible if you just believe.”
Haar boodskap aan jong vroue wat aan skoonheidskompetisies deelneem, is om hulleself nie met ander te vergelyk nie.
“Jy het iets unieks om aan te bied. Niemand is jy nie en dit is iets wat jy altyd moet onthou. Wees net jouself, geniet jouself, maak jouself oop om te leer.”
Dit maak haar opgewonde dat skoonheidskompetisies se fokus oor die jare verander het.
“Die kriteria fokus nie meer op slegs spesifieke vroue nie en dit is wonderlik. Skoonheidskompetisies kan vroue help met hulle selfbeeld, om meer oor hulleself en ander vroue te leer.”
Waarna sy egter die meeste uitsien, is hoe sy kinders en jongmense kan inspireer om hulle drome te volg.
“Om ander te sien hulle drome te bereik en hoe ek daarmee kan help, is altyd iets wat my hart goed doen.”
Mosselbaaiers kan haar ondersteun deur te stem by Ms Regal International South Africa 2021 - Pageant Vote Africa. Elke persoon kry een gratis stem per dag. Die finalis met die meeste stemme word gekroon as Miss Public Choice 2021.
“Die gemeenskap en besighede wat my wil help met donasies, kontant of donansies vir POWA, kan my kontak by 072 806 4852 en ‘n e-pos stuur na jacobsfarren5@gmail.com
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'