GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Sers. Lauriane Botha doen ’n beroep op die gemeenskap om die Miss Youth-kompetisie môre, Vrydag, 13 Junie, op Groot Brak te ondersteun.
Miss Youth word deur Rosie Venter (Miss Pre-Teen Universe SA) en Botha gereël en word spesifiek gedurende Jeugmaand gehou.
Die geleentheid word by Groot Brak Primêr se Tabitha Kruger-saal aangebied en begin om 17:30 vir 18:00. Toegangsfooie is R20 vir volwassenes en R10 vir kinders.
Botha sê hulle het talle inskrywings gekry en sien uit daarna om hierdie kompetisie ’n jaarlikse Jeugmaand-instelling te maak.
“Ons wil jong meisies toerus en wys wat hulle kan doen as hulle hul talente ontwikkel. Deur talente kan jy jouself (jou karakter, jou persoonlikheid) bou.
“Deur dit en jou liefde vir ander mense en vir jou maats kan ons ook ’n beter omgewing skep - nie net op Groot Brak nie, maar in die Tuinroete en in Suid-Afrika.”
Wenners in die verskillende kategorieë sal die geleentheid kry om ’n pad saam met Venter te stap en hul talente selfs verder te ontwikkel. Sy sal ook een van die beoordelaars vir die kompetisie wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’