MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers word aangemoedig om water vir Kapenaars te skenk. Talle insamelingsprojekte is in en om die dorp van stapel gestuur om water bymekaar te maak om na Kaapstad te versprei.
"Die Mosselbaai Besigheidskamer onderskryf die inisiatiewe om mense van Kaapstad behulpsaam te wees.
"Ek moedig inwoners aan om ruim by te dra tot die insamelingsprojekte en om, waar hulle kan, ook met leë houers behulpsaam te wees," sê mnr Fanus Truter, voorsitter van die Mosselbaai Besigheidskamer.
Die NSRI Mosselbaai Stasie 15-bevelvoerder, André Fraser en Mary-Ann Ehlers het ook vandeesweek water wat deur lede van die NSRI ingesamel is, vir verspreiding na Kaapstad afgegee. Fraser moedig ander besighede en organisasies aan om ruim tot die insamelingsprojek by te dra.
Insameling
Verskeie versamelpunte is geïdentifiseer en enige skenkings kan afgelewer word by Vredebest, DVR Decor Langeberg Mall, Pick n Pay Hartenbos Seefront, en by die bemarkingskantoor van Mosselbaai Mall in Heiderand.
Vervoer
Truter het ook die besigheidskamer se dank uitgespreek teenoor Vredebest Vervoer en Albertinia Vervoer wat onderneem het om die water wat versamel word, na Kaapstad te neem.
"Ons nooi die gemeenskap om verseëlde water te skenk omdat dit as drinkwater gebruik kan word.
"Tóg, let daarop dat dit nie net drinkwater is wat benodig word nie. Kraanwater in duidelik gemerkte bottels kan vir allerlei redes gebruik word, maar dit moét as kraanwater op die bottels gemerk word," bevestig Truter.
Hy het selfs voorgestel dat Kapenaars Mosselbaai kan besoek en het 'n beroep op die munisipaliteit gedoen om die woonwapark by die Punt teen 'n spesiale tarief dus beskikbaar te stel.
"Mosselbaai is waarskynlik die enigste dorp in die Wes-Kaap met watersekerheid," bevestig Truter.
"Hy vra ook dat Mosselbaaiers wat Kaapstad moet besoek hul eie water sal saamneem, en doen 'n beroep op lesers om geskikte houers, veral 25 liter houers, vir die insamelingspoging te skenk.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'