MOSSELBAAI NUUS - Elke deelnemer aan Saterdag se blinde navigatorstydren, het 'n unieke agtergrond en belangstelling, wat dié tydren 'n besondere en ryk ervaring sal maak vir almal wat betrokke is.
Voor die tydren op 6 April afskop, het die organiseerder, die St Blaize Lionsklub, besluit om nog vier deelnemers aan die publiek voor te stel.
Die opgewondenheid onder dié deelnemers loop hoog.
Dries Burger van Worcester sê dit was verlede jaar vir hom hartseer om uit Mosselbaai weg te ry ná die tydren. Hy het dit so geniet dat hy vanjaar sy vrou, Yolandé, en seun, Wian, vir die uitstappie Mosselbaai toe saambring.
"Ons as navigators glo en vertrou dat die tydren 'n jaarlikse instelling kan word en dat ons elke jaar hier wonderlike mense kan ontmoet.
"Dankie aan almal wat dit moontlik maak vir ons, en dat julle ons so tuis laat voel."
Dries Burger en sy gidshond Zeeva.
Nog 'n deelnemer, Nadia van Niekerk, werk as 'n sagtewaretoetsanalis by SARS-hoofkantoor met 'n fokus op die toeganklikheid van sagteware-aansoeke. Sy het onlangs 'n NQF8-kwalifikasie in belasting voltooi en hoop om bewustheid te skep oor die vermoëns van persone met gestremdhede.
Sy het op haar 40ste verjaarsdag valskermspring op Mosselbaai gedoen. Dit was vir haar 'n onvergeetlike ervaring - die Mosselbaai- en wyer Tuinroete-omgewing is haar gunsteling vakansiebestemming.
Nadia van Niekerk
Dan is daar ook 'n entoesiastiese sportman onder die deelnemers.
Ivaan Levendal is gebore en getoë in Worcester in die Boland waar hy vir byna 'n dekade reeds werksaam is by De Jagers se hoofkantoor.
Na-ure sit hy egter nie stil nie. Sy stokperdjies sluit in braille-skaak, blinde gholf, doelbal en blinde krieket. In 2022 was hy ook lid van die Proteas blinde krieketspan wat Suid-Afrika tydens die T20 Wêreldbeker in Indië verteenwoordig het.
Hy is 'n grapjas wat daarvan hou om nuwe mense te ontmoet en aan blinde navigatorstydrenne deel te neem. Sy leuse in die lewe is: "If you can dream it, you can achieve it."
Ivaan Levendal
Laastens uit die vier is daar Elouise Toerien, 'n huisvrou van die Kaap wat meeste van haar tyd daaraan spandeer om na tydskrifte en boeke te luister - sy verkies reisverhale en biografieë.
Verder luister sy graag Afrikaanse radioprogramme en TV-kanale. Sy het reeds op 'n vroeë ouderdom haar sig weens genetiese gloukoom verloor. Ná haar laerskooldae by Prinshof in Pretoria volg sy die pad Worcester toe, na Pionierskool vir Siggestremdes, waar sy braille leer lees het. Dit lei tot haar betrokkenheid by blinde navigatortydrenne vanaf 1996. Vanjaar is haar eerste deelname aan die Mosselbaai-tydren.
Elouise Toerien
Lede van die publiek wat meer inligting oor dié tydren wil bekom of daarby betrokke wil raak, word aangemoedig en uitgenooi om saam met die organiseerders en deelnemers te kuier by die prysuitdelingfunksie, Saterdagaand by die Mosselbaai Gholfklub. Vir enige navrae, kontak David Jacobs (083 648 3133).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’