MOSSELBAAI NUUS - Die KwaNonqaba-ondersoekeenheid was Vrydag 'n miernes van bedrywighede toe lede self ingespring het om iets te doen aan die haglike omstandighede waarin hulle moet werk.
Van vroeg af is die mure voorberei vir die groot verfbyeenkoms wat met Braaidag sal saamval.
Dan sal die speurders hul vakansiedag opoffer om verfkwaste en ander toebehore in te span om hul algemene kantoor 'n blinknuwe lagie verf te gee. Vandag is opvulwerk in barste en krake gedoen, ou merke afgeskuur, en kabels netjies geheg - alles in voorbereiding vir die 'groot verf'.
Die groep en hul bevelvoerende offisier, kapt Ashley Michaels, nooi die gemeenskap wat belangstel om môre, Maandag 25 September in te loer en met die opknapwerk te kom help.
Bring gerus 'n eet- of drinkdingetjie en ondersteun die span wat self skouer aan die wiel sit om hul werksomgewing leefbaar en aanvaarbaar te maak.
Barste is gevul, ou verf afgeskraap en die oppervlakte gereed gemaak sodat die verfwerk Maandagoggend seepglad sal verloop. Foto's: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'