MOSSELBAAI NUUS - 'n Ondersoek is gelas nadat dwelms, vermoedelik tik, na bewering onlangs aan huis van 'n munisipale raadslid in Uitbreiding 8 gevind is.
Die raadslid was egter ten tye van die voorval op 'n studietoer in die buiteland.
Die Da Gamaskop-polisie het by navraag bevestig dat 'n anonieme persoon 'n hoeveelheid dwelms wat vermoedelik by 'n woning in St Blaize-straat gevind is, aan 'n polisieman wat van diens af was, oorhandig het.
Die polisieman het onverwyld sy kollegas wat aan diens was ingelig en versoek om 'n visenteringslasbrief te bekom, waarna die woning deursoek is.
Geen dwelms is egter toe op die perseel gevind nie. Die Da Gamaskop-polisie het 'n navraag geopen wat deur ao Deon Louw ondersoek word.
Hoewel daar baie bespieglinge is, is die aard, hoeveelheid en straatwaarde van die dwelms nog nie amptelik bepaal nie.
Volgens die kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie, kapt Wollie Fourie, is die gevonde dwelms reeds deur die Da Gamaskop-polisie vir forensiese ontleding na Kaapstad versend.
Die uitslag van die ontleding word verwag, waarna die saak aan die staatsaanklaer voorgelê sal word vir beslissing en moontlike vervolging. Jaco Londt, DA-voorsitter van die Oosstreek het by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê die party dra wel kennis van die voorval.
Londt het in sy kommentaar gesê dat dwelmmisbruik onaanvaarbaar binne die samelewing is aangesien dit miljoene lewens vernietig.
Hy het voorts aangedui dat die raadslid alle betrokkenheid by die beweerde voorval ontken aangesien sy toe in die buiteland was.
Volgens Londt, beskou die raadslid die beweringe in 'n baie ernstige lig en sal sy haar volle samewerking gee tydens die ondersoek.
Londt het gesê dat die party bewus van die beweringe is en wag op besonderhede van die ondersoek om te bepaal watter stappe moontlik geneem mag word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'