MOSSELBAAI NUUS - Nadat die munisipaliteit weer klagtes ontvang het van dooie visse en slyk wat in die Hartenbosrivier ronddryf, het die munisipale bestuurder, adv. Thys Giliomee, vanoggend persoonlik gaan ondersoek instel.
Hy was deur onder meer die munisipale omgewingsbeampte, Warren Manuel en ander tersaaklike amptenare vergesel Tydens sy besoek is slegs twee dooie visse gevind en is geen slyk opgemerk nie. Verskeie watervoëls was in die water.
Volgens Manuel kan daar verskeie oorsake wees waarom die visse vrek en dit kan moontlik toegedig word aan die seewater wat die rivier ingestroom het na die onstuimige seetoestande verlede week.
Manuel sê die department waterwese is reeds in kennis gestel van die klagtes wat ontvang is en ingelig oor die munisipale bestuurder se waarnemings oor die toestand van die Hartenbosrivier. Die departement is versoek om so gou moontlik watermonsters te neem om die waterkwaliteit te toets.
Verder sal monsters van die twee dooie visse, onderskeidelik ‘n karp en barber, geneem word vir toetse om die moontlike oorsaak(e) van die vrektes te bepaal sodat daar dringend opgetree kan word, indien nodig.
Advokaat Giliomee sê hoewel die verantwoordelikheid van die rivier nie regtens by die Munisipaliteit berus nie, is dit wel “ons verantwoordelikheid om in die belang van die gemeenskap op te tree en die regte stappe te volg om enige probleem wat die gemeenskap raak, so gou moontlik aan te spreek en by die verantwoordelike instansie aan te meld”.
Hy voeg by dat dit onwaarskynlik is dat die vrektes deur die munisipaliteit se watersuiweringswerke veroorsaak kon word, omdat die dooie visse stroom-op van die werke opgespoor is.
Die Mosselbaai munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee (regs), die uitvoerende bestuurder in die kantoor van die munisipale bestuurder, mnr Colin Puren en die munisipale omgewingsbeampte, mnr Warren Manuel het vroeg Donderdagoggend, 31 Augustus ondersoek ingestel na beweringe van dooie vis in die Hartenbosrivier.
Een van die dooie visse.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'