MOSSELBAAI NUUS - ’n Onbekende, historiese begraafplaas met minstens nege grafte is onlangs tydens konstruksiewerk by die Hartland Lifestyle Estate tussen Hartenbos en Klein-Brakrivier ontdek.
Volgens ’n kennisgewing ingevolge die Nasionale Erfenishulpbronne-wet is ’n noodpermit in November 2025 deur die Provinsiale Erfenisowerheid van die Wes-Kaap uitgereik om die terrein te ondersoek, op te grawe en menslike oorskot te verwyder.
Die kennisgewing, wat in Vrydag 13 Maart se uitgawe van die Mossel Bay Advertiser gepubliseer is, meld dat die ontdekking vyf volwasse en vier jeuggrafte insluit.
Daar word vermoed dat die grafte uit die 18de of 19de eeu dateer, moontlik uit die koloniale tydperk.
Volgens die kennisgewing was daar geen sigbare tekens van die begraafplaas voordat ontwikkeling op die terrein begin het nie.
Die gebied is intussen afgesper en by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangemeld. Sommige van die oorskot is reeds opgegrawe en word tans by die Da Gamaskop-polisiestasie in bewaring gehou.
Vier grafte bly onaangeraak, aangesien dit na bewering nie deur die beplande ontwikkeling geraak word nie.
Die oorblywende oorskot sal, volgens die kennisgewing, ná afloop van ondersoeke weer op dieselfde terrein herbegrawe word. ’n Gedenkplaat sal ook opgerig word om die plek te merk.
Die publiek word intussen genooi om kommentaar te lewer of enige inligting oor die begraafplaas te verskaf. ’n Openbare konsultasieproses van 60 dae duur tot 13 Mei 2026.
Peter Nilssen, die argeoloog wat by die proses betrokke is, het aangedui dat hy nie tans kommentaar aan die Advertiser wil lewer nie. Navrae aan die ontwikkelaars het teen die ter perse gaan ook onbeantwoord gebly.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’