MOSSELBAAI NUUS - Motorhandelaars in die groter Mosselbaai word deur Seesig Motors uitgedaag om te verbeter op hul ruim skenking en volgehoue ondersteuning aan die Mossel Bay Advertiser se Oliver Twist-gemeenskapsprojek.
Die Oliver Twist-gemeenskapsprojek samel vanjaar geld in om 'n lewensredderstoel aan te koop.
Die gebruiklike, jaarlikse glansryke bal word weer eens deur ReedValley aangebied en 100% van die kaartjieverkope vir vanjaar se byeenkoms op 3 Augustus word aan die Oliver Twist-gemeenskapsprojek skenk.
Vanjaar sal die groep, Lonesome Rangers se musiek die gaste op die dansvloer hou en daar word fluks gevorder met die insameling van voorkeur-items wat tydens die bal opgeveil sal word.
Mosselbaaiers kan solank begin beplan vir hierdie semi-formele byeenkoms in die unieke atmosfeer van ReedValley, waar 'n verwelkomingsdrankie 'n heerlike driegangmaaltyd en voortreflike musiek die veiling sal voorafgaan. Dit mag dalk net die mees geskikte byeenkoms vir 'n jaarafsluitingsfunksie wees. Boonop brei dorpenaars reeds dat dit klap en die Advertiser bedank almal wat ruim bydra of deelneem aan die insameling van sokkies en gebreide mussies wat vir minderbevoorregte leerders bestem is.
Die winter het heel gevoelig 'n ysige hand uitgesteek en talle kinders beleef soggens reeds die koue wanneer hulle skool toe stap. Die oogmerk is om sokkies en musse beskikbaar te stel om ook die koue binne die klaskamer te verdryf.
Vir enige skenkings, of diegene wat graag wil help om mussies te brei, kan met Susan Graaff by die Advertiser se kantore skakel (044 690 7156) of die kantore besoek by Kerkstraat 9, Mosselbaai.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'