MOSSELBAAI NUUS - Die uitdrukking "ogies maak vir iemand" was lanklaas meer betekenisvol as in die liefdesverhaal van Melindie Blignaut en haar man Tommie Darlew wat op 28 Oktober getroud is.
Melindie is vir baie Mosselbaaiers 'n bekende gesig vanweë haar betrokkenheid by die familiebesigheid, 'n kunswinkeltjie wat vanuit die Goods Shed bedryf word.
Haar besonderse verhaal van oorlewing het in November 2013 die Mossel Bay Advertiser gehaal.
Daarin word vertel hoe Melindie se ma, Maxie destyds aangeraai is om liewer die swangerskap te beëindig vanweë 'n gans te hoë anti-teenliggaamtelling.
Maxie het egter geweier en selfs toe Melindie gebore is, het medici min hoop vir haar oorlewing gehad. Sy is met Hasshimoto se siekte gediagnoseer, wat wanfunskie van die skildklier behels. Dit kan minimale breinfunksie tot gevolg hê.
Dit het Melindie egter nie gestuit nie. Haar ouers het bevind dat haar skolastiese prestasie eintlik bo haar vermoë was, al het sy spesiale onderrig benodig. Selfs wat die verkryging van haar bestuurderslisensie betref, het sy aanhou probeer totdat sy geslaag het.
Ogies gemaak
Uit die aard van Melindie se werk by die kunswinkeltjie wat sy en haar ma bedryf, maak hulle die voorraad self. Van hulle handgemaakte produkte is deurstoppers wat soos uiltjies lyk.
"Die uiltjies moes groot geborduurde oë kry. Ons het begin soek na iemand wat borduurwerk kan doen." Maxie bel toe 'n vriendin en hoor dat haar seun, Tommie spesifiek al die besigheid se borduurwerk doen. En die eerste dag, toe hulle die uiltjies gaan aflaai vir die borduurwerk, was dit dadelik ooglopend dat Melindie en Tommie net oë vir mekaar gehad het.
'n Hegte vriendskap het tussen die twee ontstaan en na hulle eerste amptelike afspraak, vertel Maxie, het Melindie kom vertel "Tommie is die een".
"Melindie het die Here vertrou vir die regte lewensmaat en opreg geglo haar gebed sal verhoor word. Haar vereiste was dat hy moes lief wees vir die Here, so saggeaard soos haar pa moes wees en dat hy haar moes aanvaar net soos sy is," vertel Maxie. Melindie se pa het hulle enkele maande gelede ontval, maar dit troos dat hy Tommie ontmoet, leer ken en goedgekeur het as 'n eggenoot vir sy dogter.
So is die Melindie en Tommie presies 'n jaar na hulle eerste afspraak getroud. "Hulle straal van geluk. En my hart is rustig. Mense met spesiale behoeftes kry nie altyd maklik 'n geskikte maat nie."
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'