MOSSELBAAI NUUS - Die Wes-Kaap het ‘n nypende tekort aan psigiatriese behandeling vir verhoorafwagtendes.
Op Vrydag, 6 Mei het ‘n 21-jarige inwoner van Mosselbaai vir die soveelste keer in die Mosselbaai-streekhof verskyn, in afwagting vir ‘n bed by die enigste psigiatriese staatshospitaal in die streek.
Valkenberg psigiatriese hospitaal het slegs 15 beddens vir hierdie doeleinde beskikbaar.
Die verdagte, wat twee aanklagte van verkragting in die gesig staar wat spruit uit 'n voorval in Maart, 2019, is reeds sedert 2019 by die Mosselbaai Jeugsentrum in aanhouding.
Teen Vrydag was hy nommer 79ste op die waglys vir ‘n bed by Valkenberg.
Volgens sy regsverteenwoordiger was hy aanvanklik gereed vir verhoor maar kon hy na ‘n tydperk in aanhouding nie meer sinvol getuig nie.
Die verdagte toon sigbaar tekens van ‘n geestesversteuring en moet dus eers by Valkenberg geëvalueer word om te kan bepaal of 'n verhoor sinvol sal wees.
Landdros Sylvia Mandla het haar frustrasie met die vertragende proses uitgespreek.
Bedtekort
Die hof het personeel van die hospitaal sub poena om Vrydag te getuig hoekom dit so lank vat vir 'n gevangene om by die hospitaal geëvalueer te word.
Volgens die getuienis is daar slegs 15 beddens beskikbaar en het die personeel by die hospitaal nie beheer oor aan wie 'n bed toegeken word nie.
Dit is glo in die hande van die departement van openbare vervolging.
Mandla het aan die hof gesê die verdagte word op 'n ernstige aanklag in aanhouding gehou en staar moontlik twee lewenslange vonnisse in die gesig, daarom dat sy hom nie op borgtog kan vrylaat nie.
Die hof het gehoor dat die verdagte reeds vir etlike maande in isolasie by die jeugsentrum aangehou word, omdat hy nie met sy huidige optrede saam met ander jeugdiges in aanhouding gehou kan word nie.
Die verdagte se regsverteenwoordiger het gesê die verdagte is verhoorafwagtend en is dus nog nie in 'n stelsel by die jeugsentrum betrokke waar hy aan sekere opbouende aktiwiteite kan deelneem nie.
Ook, het die tydperk in isolasie glo bygedra tot sy geestelike agteruitgaan.
Die verdagte het sigbare geestelike afwykings in die hof getoon.
Sy ma het aan die Mossel Bay Advertiser gesê hulle weet nie wat om verder te doen nie.
"Jy kan dink wat doen dit aan my kind om dag en nag alleen in 'n sel te sit. Hy wil glo ook nie juis eet nie."
Die saak is uitgestel vir 'n verdere 30 dae om te bepaal of daar teen dan al 'n bed vir hom beskikbaar sal wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'