MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai is die 9de Kansa Relay For Life Mosselbaai en Oktober beteken dat die Hartenbos Seefront in pers omtower gaan word.
Spanne word nou reeds aangemoedig om in te skryf. Die spanvergaderings vind op Dinsdag, 10 Oktober en Dinsdag, 24 Oktober om 18:00 by Art Café by Diaz Strand Hotel plaas.
Die finale spanvergadering sal op 2 November om 18:00 by die ATKV-pretpark plaasvind.
Vanjaar se Relay-tema is Power Of Purple Party en saam met vennote, Hartenbos Seefront, ATKV Hartenbos, SFM en Wellness World, word groot deelname verwag.
Die Relay word vanjaar vanaf 12:00 op Saterdag, 4 November tot 00:00 in die pretpark by die Hartenbos Seefront gehou.
Spanne hoef vanjaar, anders as voorheen, nie aan 'n voorskriftelike aantal spanlede te voldoen nie.
Spanlede kan teen R60 per persoon inskryf en spanne kan uit soveel lede as moontlik bestaan.
Die gebruiklike oornagstalletjies gaan ook nie bedryf word nie. Die Hartenbos Seefront se winkeleienaars en huurders sal verseker dat daar genoeg te ete en te drinke aangebied word. Die voorprogram begin reeds om 12:00 die middag, maar die amptelike Relay vind vanaf 18:00 binne in die ATKV-pretpark plaas.
Avontuurgholf
Die groot pret vir vanjaar se Kansa Relay For Life het reeds op 14 September begin met 'n lentereeks korporatiewe avontuurgholftoernooi by die ATKV-pretpark teen R25 per speler en R15 per gesinslid wat die fasiliteite by die pretpark wil geniet terwyl die res van die gesin dit in die liga uitspook.
Die ligawedstryde begin om 18:00 en deelnemers kan enige tyd inval, juis omdat die puntestelsel op 'n regverdige wyse uitgewerk word sodat elkeen 'n gelyke kans staan om te wen.
Die liga-datums is 28 September, 12 Oktober, 19 Oktober, 26 Oktober en 2 November.
Purple Friday
Vrydag, 3 November is dit Purple Friday by Hartenbos Seefront. Wees gerus deel van die Purple Friday-staptog om 18:00 wat voor die SFM-kantore begin.
Opwindende aktiwiteite op die dag is sluit in:
- Relay Recess vir die skoliere;
- 'n Bark for Life vir die diere;
- Selfs 'n skopfietskompetisie vir die kleuters; en
- 'n Lekker spinning-uitdaging saam met Wellness World.
Gooi by diè mengelmoes van aktiwiteite die Relay op 4 November met 'n vermaaklikheidsprogram wat skrik vir niks.
"Teen slegs R60 per persoon wat jou luminaria-sakkie insluit, kan jy nie bekostig om nie daar te wees nie. Die hoeveelhede per span word ook nie beperk nie," nooi Lucinda Viljoen van Kansa.
Vir enige navrae en inskrywings, kontak Denise Lloyd (084 444 5873) of stuur e-pos na delloyd@mweb.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'