MOSSELBAAI NUUS - Die gemeenskapspolisieforum (GPF) van Mosselbaai het verlede week op Donderdag, 8 April 'n spesiale algemene jaarvergadering gehou om vakante poste te vul.
Leon van Dyk, wat vir vier jaar betrokke was en drie jaar as voorsitter gedien het, het op 15 September 2020 'n pos as munisipale raadslid aanvaar.
Hy is 'n komiteelid op die veiligheidsportefeuljekomitee van die Mosselbaai munisipale raad en werk saam met die munisipaliteit se veiligheidsdirektoraat. Van Dyk dien ook op verskeie ander komitees in die raad. Van Dyk het voorheen ook gedien as ondervoorsitter van Da Gamaskop-polisiesoneraad.
Arthur Riordan, wat die pos as ondervoorsitter van die GPF beklee het, het sedert September as voorsitter ingestaan.
Riordan is tydens die vergadering tot nuwe voorsitter van die Mosselbaai GPF verkies.
Lindie Edwards is verkies as ondervoorsitter terwyl drie addisionele lede, Elmarie Landman, Nathan Pillay en Jeff van der Merwe, ook tydens die vergadering verkies is.
Die GPF se uitvoerende kommitee het Van Dyk bedank vir sy toewyding tot die gemeenskap. Onder sy leiding, is die Mosselbaai GPF in 2017/8 erken as die Wes-Kaapprovinsie se gemeenskapsforum van die jaar, en in 2019 het hul tweede geïndig.
Die huidige kommitee het hulself verbind om hierdie voorbeeld na te streef, en hard te werk om weer hierdie eer na Mosselbaai te bring. Die GPF se doelwitte is om verhoudings tussen die gemeenskap en die plaaslike SAPD-kantore, te bou en te verbeter, sodat die gemeenskap optimale veiligheid kan geniet. Dit word gedoen deur ondersteunende projekte in samewerking met hul lede, wat almal 'n rol in veiligheid vir die gemeenskap speel. Een so 'n suksesvolle projek is die jaarlikse perdepatrollies tydens die somervakansie.
Hierdie projek het aanvanklik begin met net Mosselbaai-strande, maar het voor die inperkingstydperk van Desember 2020, sover as Hartenbos gestrek.
Daar is selfs 'n paar aandpatrollies gedoen. Vanjaar is een van die Mosselbaai GPF se oogmerke om ook na die jeug uit te reik, sodat die waarde van betrokkenheid in eie veiligheid, van jongs af vasgelê kan word. Die huidige kommitee sien soos volg daar uit: (voorsitter) Arthur Riordan, (ondervoorsitter) Lindie Edwards, (sekretaris) Deidré Swanepoel, (assistent-sekretaris) sers Kay James, (tesourier) Fiona Williamson, (projek-koördineerder) Martie Loubser, (skakelbeampte) Peggy Roux, (addisionele lede) Elmarie Landman, Nathan Pillay en Jeff van der Merwe.
Lindie Edwards is verkies as ondervoorsitter van die Mosselbaai GPF.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'