MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai munisipaliteit beoog tans drie ontwikkelingsvoorstelle wat tans vir openbare kommentaar aan die gemeenskappe voorgehou word.
Hierdie voorstelle sluit in die privatisering van die bestuur van die Punt Woonwapark, die privatisering van en opgraderingsvoorstelle vir Souwesiastrand, asook die voorgenome ontwikkeling van Erf 3991 waar onder meer middel-inkomste behuising as deel van 'n groter behuisingsontwikkeling voorsiening gemaak sal word.
Hoewel die publiek steeds skriftelike kommentaar op die ontwikkelingsvoorstelle kan lewer, gaan die munisipaliteit tóg nog drie openbare vergaderings na-ure hou om die publiek se vrae te beantwoord. Hierdie vergaderings volg op 'n reeks openbare vergaderings wat reeds gehou is, maar wil diegene wat voltyds werk en ook die vergaderings wil bywoon, probeer akkommodeer.
Belangstellendes kan dus gerus kennis neem van vergaderings wat beplan word vir 15 Mei om 18:00 in die Greenhaven Gemeenskapsaal in Groot-Brakrivier, waar veral voorstelle met betrekking tot die voorgestelde verhuring en ontwikkeling van Souwesiastrand toegelig sal word.
Tydens die openbare vergadering op 16 Mei in die Mosselbaai Stadsaal kan inwoners meer te hore kom oor ontwikkelingsvoorstelle oor al drie die voorgenome ontwikkelings, te wete die Punt Woonwapark, die Diasstrand ontwikkeling asook Souwesiastrand.
Aangesien die openbare deelnameproses dus nog nie afgehandel is nie, sal die munisipaliteit gevolglik nie by die spertye vir terugvoer soos ontvang tydens die openbare optog na Souwesia op 27 April kan hou nie.
Belangstellendes sal by hierdie vergaderings te woord gestaan word deur die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal en lede van die uitvoerende burgemeesterskomitee.
Benewens die ses openbare vergaderings per ontwikkelingsvoorstel wat reeds gehou is, kan navrae en insette steeds aan die regsdienste-afdeling van die munisipaliteit gerig word (044 606 5011) of alternatiewelik (044 606 5071).
Skriftelike kommentaar kan per e-pos gestuur word na dsteyn@mosselbay.gov.za of jroux@mosselbay.gov.za.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'