MOSSELBAAI NUUS - Joan van Huyssteen, die oudste inwoner van Hartenrus Aftreeoord in Hartenbos, het onlangs haar 98ste verjaarsdag gevier.
Sy het op 18 April verjaar.
’n Ander inwoner en lid van die uitvoerende komitee, Marie van Nierop, het aan Mossel Bay Advertiser gesê Van Huyssteen is in George gebore, een van ses kinders.
“Omdat haar ma Engelssprekend was, het Joan ’n Engelse skool bygewoon en is sy vandag nog vlot tweetalig.”
Na skool het Van Huyssteen by ’n skoenfabriek begin werk, waar sy haar man, Esra, ontmoet het. Die egpaar het in George aangebly.
Vier kinders is uit die huwelik gebore: twee seuns, onderskeidelik in George en Perth, Australië, en twee dogters, waarvan een in Kaapstad woon en die ander, Estelle Smith, in Hartenbos bly en na haar ma omsien.
Joan het sewe kleinkinders en vier agterkleinkinders.
Die egpaar het hulle in 2003 by Hartenrus Aftreeoord gevestig. Esra is in 2016 oorlede.
Joan het nog altyd ’n liefde vir tuinmaak, koekbak en blokraaisels gehad, maar haar grootste passie was breiwerk.
In haar kas is daar talle pragtige truie met ingewikkelde patrone wat sy self gebrei het, en sy het tot onlangs nog aktief gebrei.
Ten spyte van haar ouderdom is haar fisieke gesondheid steeds redelik goed, en sy kon tot onlangs nog selfstandig stap.
By die aftreeoord se maandelikse sang geniet Joan dit steeds om saam te sing en kan sy nog die liedjies onthou wat sy bykans ’n eeu gelede op skool geleer het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’