GLENTANA NUUS - 'n Buitelandse toeris (66) is vanoggend by Glentana se hoofstrand gered nadat hy weens sleurstrome in die see in die moeilikheid beland het.
Volgens ‘n ooggetuie, Cathleen Botha het die man en ‘n familielid gaan swem.
Sy het opgemerk dat die man al dieper die see ingetrek word en dat hy paniekerig voorkom.
Hy het onverpoos probeer om teen die stroom te swem.
Sy het ook gesien hoe hy met tye onder die water verdwyn.
Twee ander ooggetuies, ChantéPietersen en Chaboney Kortom het na die parkeerarea gehardloop en om hulp geroep en gevra dat die nooddienste gekontak moet word.
Drie jong seuns wat ten tye van die voorval op die strand was het aan gehardloop gekom om die man te help.
Een van die seuns het sy branderplank onder die water gedruk en die drenkeling uitgelig uit die water tot bo-op die branderplank.
Die ander twee seuns het weerskante geswem en so gehelp om die toeris na die strand te bring.
Eden 911, Mosselbaai se Brand en Rampbestuursdienste asook ambulansdienste en Mosselbaai Verkeer was binne minute op die toneel.
Paramedisie het begin om die man te stabiliseer.
Hy is op die toneel behandel vir water inhilasie en skok.
Na ‘n halfuur is die ses en sestig jarige man saam met familie huistoe.
Hy het die betrokke mense, veral dié wat hulle eie lewens gewaag het om hom te help hartlik bedank.
Sleurstrome is baie gevaarlik en mense moet altyd versigtig wees wanneer hul in die see swem.
Lees 'n verwante artikel: Mosselbaaiers tot die redding
ARTIKEL & FOTO'S: ADÉLE GEYSER, MOSSEL BAY ADVERTISER KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Glentana, Tuinroete nuus'