Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die Hartenbosrivier is Donderdag, 8 April na goeie reën in die opvangsgebied meganies oopgemaak.
Die watervlak van die rivier was 1,9m hoog en het die munisipaliteit genoodsaak om die riviermonding, wat reeds 'n tyd gelede toegespoel het, oop te maak.
Verskeie riviere in die omgewing van Mosselbaai sit met probleme en volgens kenners is dit hoofsaaklik toe te skryf aan die mondings van die riviere wat toespoel.
Groot-Brakrivier sit tans met 'n algprobleem en visvangste is in die algemeen baie swakker as in die verlede. Op sosiale media plaas inwoners die skuld op die rioolsuiweringsaanleg wat water in die Hartenbosrivier stort en dat alge die groen kleur in die water teweeg bring.
"Ons water in die riviere is te vars en het sout van die see nodig om die balans te handhaaf en die alge uit te roei," het een van die inwoners, wat verkies om anoniem te bly tydens die oopmaak van die mond aan die Mossel Bay Advertiser gesê. "Hulle moet maak soos by St Lucia en die mondings ordentlik oopmaak."
Kyk 'n video hieronder:
Die munisipaliteit tree egter binne hul vermoë op aangesien wetgewing hulle in verskeie opsigte beperk. Daar is 'n proses in plek en sekere riglyne waaraan eers voldoen móét word, alvorens die mond oopgemaak mag word.
Die verskynsel dat mondings van riviere in die Mosselbaai-distrik toegespoel word, is sedert die 1800's al aangemeld.
Die mees natuurlike teenvoeter om 'n gesonde rivierstelsel aan die gang te hou is genoegsame reën, wat oor die afgelope jare problematies in die Mosselbaai-omgewing was.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'