Update
GLENTANA NUUS - 'n Buitelandse toeris (66) is Dinsdagoggend by Glentana se hoofstrand deur drie jong mans uit die see gered nadat hy weens sleurstrome in die moeilikheid beland het.
Volgens 'n ooggetuie, Cathleen Botha het die man en 'n familielid gaan swem.
Sy het opgemerk dat die man al dieper die see ingetrek word en dat hy paniekerig voorkom, hoewel hy onverpoos probeer het om teen die stroom terug strand toe te swem.
Sy het ook gesien hoe hy met tye onder die water verdwyn.
Twee ander ooggetuies, Chanté Pietersen en Chaboney Kortom het na die parkeerarea gehardloop en om hulp geroep en gevra dat die nooddienste gekontak moet word.
Drie jong mans, Frans-Hendrik Badenhorst, Stefan de Klerk en Marnus Gruber wat ten tye van die voorval toevallig by die toneel op die strand verbygery het, het onmiddellik reageer om die man te help.
"Ons was op pad terug van die gimnasium af toe ek iemand in die see in die moeilikheid opmerk. Ek het maar altyd my branderplank by my en het vir my vriende gesê om te kom help," sê die 25-jarige Stefan.
Hy het vinnig na die buitelander geswem, sy branderplank onder die water gedruk en die drenkeling uit die water tot bo-op die branderplank gelig.
Sy twee vriende het weerskante van die branderplank geswem en so gehelp om die toeris veilig tot op die strand te bring.
"Die man het baie geskok voorgekom, maar was by sy volle bewussyn. Ons het hom gehelp en daarna aan die ambulanspersoneel vir behandeling oorgegee," aldus Stefan.
Die drie jong helde, Frans-Hendrik Badenhorst, Stefan de Klerk en Marnus Gruber se blitsige optrede op Glentana se strand het 'n buitelandse toeris van verdrinking gered.
Stefan, self vroeër 'n lewensredder, kuier tans by sy ma, Debbie de Klerk. Sy sê hy het in die verlede by herhaling gehelp om mense uit die gevaarlike seetoestande by Glentana te red.
"Stefan is 'n sterk swemmer, sy twee maats sê hy was blitsvinnig by die toeris om hom te help."
Eden 911, Mosselbaai se brand- en rampbestuursdienste, verskeie ambulansdienste en Mosselbaai se verkeersdienste was binne minute op die toneel.
Paramedici het begin om die man te stabiliseer en op die toneel te behandel vir waterinaseming en skok.
Na 'n halfuur is die ses-en-sestigjarige man saam met familie huis toe.
Die flink optrede van Cathleen Botha, Chanté Pietersen en Chaboney Kortom het meegebring dat nooddienspersoneel vinnig na die toneel ontbied is.
Hy het die betrokke mense, veral dié wat hulle eie lewens gewaag het om hom te help, hartlik bedank.
Lees 'n vorige artikel: Toeris verdrink amper by Glentana
ARTIKEL: ADÉLE GEYSER EN NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
FOTO'S: ADÉLE GEYSER
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'