MOSSELBAAI NUUS - Met Mosselbaai wat aan die voorpunt van Covid-19-infeksies in die Tuinroete staan het die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal het hom vandeesweek tot die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde en die LUR vir gesondheid, minister Nomafrench Mbombo gewend.
Levendal het op Woensdag, 23 Junie 'n ernstige beroep op die Wes-Kaapse regering gedoen om meer Covid-19-entstof tot Mosselbaai en omstreke se beskikking te stel.
Die entstof kan egter slegs vanaf die departement gesondheid op nasionale vlak bekom word.
Styging
Levendal het die Winde daarop gewys dat die dorp in die aanloop tot die derde golf van Covid-19-infeksies en steeds deurlopend die hoogste statistiek vir aktiewe gevalle in die distrik beleef.
Aktiewe gevalle in en om Mosselbaai het in ongeveer twee weke toegeneem van 164 (7 Junie) tot 559 (21 Junie), wat 'n ontstellende tendens weerspieël.
Berigte is ook ontvang van inwoners wat toenemend teleurgestel word deur die onbeskikbaarheid van entstof, selfs vir diegene wat gepas daarvoor geregistreer het.
Mosselbaai se demografiese profiel van afgetredenes en inwoners bó 60 jaar oud wat nog baie aktief is, behoort in ag geneem te word in bestuursplanne vir die beskikbaarstelling van entstof.
Levendal het self as proefkonyn by die D'Almeida-gemeenskapsaal aangemeld saam met talle ander inwoners toe die eerste inentings plaaslik beskikbaar gestel is. Hy het inwoners aangemoedig om hulle gepas vir die entstof te registreer. Hy het ook begrip getoon vir die frustrasie wat inwoners ervaar wanneer hulle onverrigtersake moet omdraai na ure se gewag omdat die entstofvoorraad te kort skiet.
"Dit is die inwoners in ons landelike gebiede, veral die ouer garde wat ons baie ná aan die hart lê. Dit is hierdie gemeenskappe, so ver verwyderd van behoorlike gesondheidsorgfasiliteite, waaroor ons diep besorg is."
Nooddienspersoneel
Levendal het verder ook vir munisipale nooddienspersoneel in die bresse getree deur Winde, asook die LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, minister Anton Bredell te versoek om ook húlle vir Covid-19-inentings te prioritiseer.
Levendal het gevra dat, benewens ouer inwoners, die noodsaaklike en nooddienspersoneel van alle plaaslike owerhede ook voorkeur vir inentings moet geniet.
"Ek praat van die nooddienspersoneel wat hul lewens telkens waag om beseerdes uit motorwrakke te bevry, ongeag die risiko van oordrag. Ek verwys na die personeel wat noodsaaklik is vir dienslewering, soos vullisverwyderingspersoneel en tegniese bystandspanne wat in groepe na diensleweringsprobleme vervoer word, wat deur hul onbaatsugtige opoffering verseker dat Mosselbaai en die Wes-Kaap die voorkeurbestemmings vir soveel Suid-Afrikaners is."
Levendal het 'n beroep op Bredell en Winde gedoen om met relevante betrokke vennote, insluitend SALGA en andere te skakel en om daarop aan te dring dat plaaslike owerhede se noodsaaklike personeel ook, soos onderwysers geprioritiseer word vir inenting.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'