Update
MOSSELBAAI NUUS - Groot was Marné van den Heever van Danabaai se vreugde toe sy haar geliefde Jack Russell, Noenoes wat verdwyn het, twee dae later teruggekry het.
Noenoes is al 16 jaar oud en is stelselmatig besig om blind te word. Sy kan ook amper niks meer hoor nie.
Op die betrokke oggend op 26 November om ongeveer 02:00 het Marné vir Noenoes uitgevat sodat sy 'n draai kon loop.
Daar was egter hewige storms op Mosselbaai en net nadat Noenoes die huis verlaat het, het swaar donderstorms losgebreek.
Noenoes het so groot geskrik dat sy weggehardloop het. Marné het dadelik na Noenoes begin soek maar sy was skoonveld.
Op die dieregroep, Dana Bay Pets in Distress het Marné toe 'n boodskap geskryf: "Help asseblief, die ou tannie het vir die donderweer geskrik en is weg. Sy is doof. Sy stap gewoonlik in Scartastraat af as sy skrik. As iemand haar sien kontak my asseblief dringend."
Die Mossel Bay Advertiser het kort nadat Noenoes vermis geraak het 'n foto van haar op sosiale media vesprei om in die soektog te help.
Op 28 November, twee dae nadat Noenoes verdwyn het, het 'n verligte Marné op die groep geskryf: "Julle, sy is terug by die huis. Sy het in 'n tannie se toilet gaan wegkruip."
Nodeloos om te sê is Noenoes daarna vreeslik bederf. Marné het haar dadelik gebad en vir haar kos gegee.
"En dan gaan ons ernstig sit en oor die lewe gesels, in vingertaal," het Marné vir die groep geskryf.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'