Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - As jy op 95 nog kans sien vir die Mossel Bay Zipline dan is jou lewenslus nog lank nie geblus.
Toe hy 'n jong man was, was spoed en motorsport vir Tom Campher ‘n alledaagse adrenalien-inspuiting.
"My pa is ? besonderse mens met ? fyn humorsin, 'n kleurryke loopbaan en ? geheue wat skrik vir niks," vertel Thomas junior. Volgens hom, was dit sy wens om sy pa se 95ste verjaarsdag op 'n besonderse manier te gedenk. Verskeie borge het na vore gekom om hiermee te help.
Oom Tom soos almal hom noem, het egter self besluit hy wil as deel van sy verjaarsdag die Mossel Bay Zipline aandurf.
Fotogalery: 95-Jarige durf zipline aan
Gaynor Canning het op 17 Februarie 2020 op haar 92ste verjaarsdag die titel bekom as die oudste persoon wat die langste zipline oor die see ter wêreld aangedurf het. Op sy verjaarsdag op Donderdag, 18 Februarie, 'n dag na Gaynor s'n, was oom Tom gereed vir die zipline.
Die wind het egter gelol en die avontuur is uitgestel. Dit het geensins die gees gedemp nie. Omring deur kinders, familie en vriende, met ‘n persoonlike gelukwensing deur munisipale raadslede, Anton Dellemijn en Annatjie Janse van Rensburg asook die waarnemende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzè, is daar gepas jolifikasie gehou.
Tweede kans
Die volgende oggend was die wind reg en word oom Tom op 95 die oudste persoon wat die Mossel Bay Zipline getroef het.
Kyk 'n video hieronder:
Vroegoggend het hy saam met sy vriendin, Alisha van Wyk, familie en vriende gearriveer. Raadslede Dellemijn en Janse van Rensburg was weer eens daar om oom Tom in sy rekordpoging te ondersteun. Na 'n koppie koffie is hulle na die kaartjiekantoor waar hy sy doktersbrief moes toon om te bewys dat hy fiks genoeg vir die avontuur is.
Nadat sy gehoorapparaat afgehaal is, is die helm op die kop gesit. Die harnas is aangetrek en toe vertrek hulle met groot opgewondenheid na die beginpunt.
Soos 'n ware heer het oom Tom aangedring dat die vroue wat hom vergesel het eerste afgaan. Hulle het van oor die land gekom vir die groot geleentheid.
Na instruksies gegee is, is Mel Smit van Johannesburg eerste af gevolg deur Ilze Huysteen van Oudtshoorn. Ansie Campher, oom Tom se skoondogter was volgende gevolg deur Alisha.
Met groot kalmte het oom Tom sy beurt afgewag en saam met sy tandem-instrukteur, Cebo Mabaso is hulle aan die kabel vasgemaak.
By die eindpunt was daar natuurlik groot opgewondenheid en applous toe oom Tom aankom. Met 'n beskeie "baie dankie" het hy die die luide applous aanvaar.
Daarna is die groot koek wat Juli Stapelberg spesiaal namens die Robertson-familie vir die geleentheid gebak het, aan die gaste uitgedeel.
Nie te lank daarna nie, is 'n Jägermeister in oom Tom se hand gesit om die groot geleentheid te vier.
En wat van 'n volgende uitdaging?
"Ek wil gaan valskerm spring," sê oom Tom.
Agtergrond
Ongeveer 25 jaar gelede tree Tommy (Tom) Campher af nadat hy Tom Campher Motors in Johannesburg besit en sedert 1975 suksesvol bedryf het.
Tom Campher Motors is vandag steeds 'n familiebesigheid wat sy twee seuns as 'n Volvo-handelaar en dienssentrum bedryf. Die onderneming is verskeie kere aangewys as handelaar van die jaar.
Volgens Thomas jnr het sy pa ? formidabele lewe gehad. Sy pa het die gesin aan die Wes-Kaap voorgestel toe hulle tydelik verhuis het in 1969 om Volvo in die Kaap te kom vestig. So het Tom vir Laurie Claassen en sy gesin van Rola Volvo Cars leer ken. Claassen en Naas Rabie, wat vandag in George met sy vrou Gloria woon, is sy oudste lewende vriende. Elkeen het staaltjies uit toeka se tyd wat goud werd in Tom se lewe is.
Tom se vrou, Edith is in 1995 aan motorneuronsiekte oorlede. Hulle het vier kinders grootgemaak. Hy is weer getroud, maar sy tweede vrou, Tiensie is Desember 2018 aan breinkanker oorlede. Tom was ‘n gereelde besoeker op Klein-Brakrivier.
Met Tom se terugkeer in Oktober verlede jaar na Klein-Brakrivier, sou hy eers net tot na sy verjaarsdag bly. Hy geniet dit te veel hier in die Wes-Kaap en het besluit om nie nou op sy oudag terug te gaan stad toe nie.
Nou dat hy so heerlik in Klein-Brakrivier kuier, na 5 jaar weg in Edmonton Kanada en Johannesburg, het hy besluit om nog langer te bly en sy laaste jare hier deur te bring. Hy woon by sy seun Thomas op Klein-Brakrivier.
As familie, is hulle baie geheg aan mekaar. Covid-19 het Tom, asook van sy ander familielede in Junie 2020, platgetrek. Tom het egter die virus nie net oorleerf nie, maar inteendeel veel sterker en gesonder anderkant uitgekom.
Daar word ook vermoed dat Tom waarskynlik een van of selfs moontlik die langslewende matrikulant van Afrikaans Seuns Hoër in Pretoria is.
Tom is veral baie bekend in die motorsportbedryf toe hy as jong man aan motorwedrenne deelgeneem het.
Kyk die video te sien van Tom se 95ste verjaarsdag hier:
Kyk gerus na die artikel van Tom Campher se lewe in motorsport, geskryf deur Stuart Grant, wat in 2018 in Classic Car Africa verskyn het hier.
Oom Tom Campher saam met waarnemende burgemeester raadsheer Dirk Kotzè, familie en vriende op sy 95ste verjaarsdag. Foto: Jannie du Plessis
Thomas Campher jnr, raadslid Anton Dellemijn, Tom Campher, Alisha van Wyk en waarnemende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzè. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'