MOSSELBAAI NUUS - "Ons is uit JCC-kamp verwyder en gesê as ons in New Rest kom woon, sal ons huise kry. Dis al meer as twee jaar, nou moet ons hoor net sommiges van ons sal dalk huise kry. Intussen is ons omstandighede baie swak," sê Sisanda Mvbiu, 'n inwoner van die omgewing.
"Ons het die raadslid en munisipaliteit al hoeveel keer gevra vir spoedboggels. Gisteraand (Dinsdag, 19 Junie) is 'n ou omie amper in sy eie huis doodgery toe 'n motor reg voor sy huis 'n ongeluk gemaak het. As daar spoedboggels was, sou die ongeluk nooit gebeur het nie."
Gelukkig het niemand seergekry in die voorval nie, hoewel die gemeenskap meen daar moet meer gedoen word om hul veiligheid te verseker.
New Rest is die geformaliseerde groep inwoners wat uit JCC-Kamp, op die soom van Aslapark, neffens die N2 industriële area hervestig is. Vir hierdie groepie is nuwe huise in die vooruitsig sodra die nuwe menslike nedersettingsontwikkeling afgehandel is.
Gevaarlike omstandighede
Intussen, meen Sisanda, word die mense van New Rest aan onaanvaarbare en gevaarlike toestande blootgestel. Daar is nie 'n heining wat hul woongebied van die beboste gebied daaragter afsper nie.
"Snags hoor ons mense skree en huil in die bosse, maar ons kan nie waag om te gaan om te help nie." Sy vra dat die woongebied omhein moet word om hul kinders en vroue teen misdadigers te beskerm.
Die inwoner van 'n huis in New Rest was gelukkig om Dinsdagaand ongedeerd van hierdie ongeluk te ontsnap.
"Ons kan maar die polisie bel, hulle kom nie hier nie." Boonop is slange en rotte alledaags, sê Sisanda. Sy praat van die vullis wat ophoop en gesondheidsgevare skep. Sy sê ook die kinders in die gemeenskap is gedurig siek weens die afvalwater wat deur hul huise loop. Die gemeenskap is van gemeenskaplike krane en toilette voorsien, hoewel talle hiervan nie meer werk nie.
Sisanda bedank raadslid Niklaas Booisen wat in die verlede gesorg het dat daar vullishouers beskikbaar is. Sy sê egter daar is bestaande gemeenskapstrukture, maar dat niemand met die informele area se mense oor die planne vir hul toekoms praat nie.
"Ons het community leaders verkies, ons het strukture, maar niemand praat met ons nie." Sisanda sê die gemeenskap is onlangs ingelig dat toilette gebou gaan word, maar wonder steeds of en wanneer dit sal gebeur.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'