MOSSELBAAI NUUS - Hartenbos spog met drie splinternuwe netbalbane. Die bane is in hul eerste fase gereed vir spel, met bykomende kleedkamers en ander geriewe wat volg.
Die Wes-Kaapse LUR van sport en kultuur, minister Anroux Marais het Saterdag, 2 Februarie, die bane amptelik geopen. Dit sal deur netbalspelers van regoor die groter Mosselbaai gebruik word.
In haar openingstoespraak het Marais aangekondig dat Suid-Afrika 'n bod ingesit het om gasheer vir die 2023-Wêreldbekernetbalspele te speel.
"Indien die eer ons toekom sal hierdie bane heel waarskynlik deel uitmaak van die spele."
Sy het die Mosselbaai-munisipaliteit bedank vir goeie bestuur wat die bou van die bane moontlik gemaak het.
Mosselbaai se uitvoerende onderburgemeester, raadslid Dirk Kotzé, het minister Marais geloof vir haar harde werk. "Dankie vir wat u vir sport en kultuur doen."
Kotzé het sy hoop uitgespreek dat Mosselbaai nie net in die Suid-Kaap nie, maar 'n netbalmekka in Afrika sal word.
"Die munisipaliteit is baie kompeterend en in staat daartoe om netbalspelers van regoor die wêreld te lok."
Desmond Speelman, voorsitter van die Eden-sportraad het die opening van die bane as 'n groot geleentheid beskryf.
Hy het Eden se sportfederasies en -klubs aangemoedig om verantwoordelikheid vir hul geriewe te neem.
Sien 'n vorige artikel en video hier: Minister open netbalbane.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'