MOSSELBAAI NUUS - Berenice Kogana, bekende Mosselbaaier, het 'n spesiale Christelike handleiding geskryf met die titel, Net Vandag.
Dit is 'n gewyde handleiding met 'n verskil waar daar geen dag of datum getoon word nie. Elke dag se opskrif met die oordenkingsboodskap verskyn slegs as "Vandag".
"Elke dag is uniek en spesiaal en moet tot sy volle potensiaal benut word," het Berenice gesê.
Die boodskap is duidelik dat mense so ver as moontlik in vrede en harmonie met mekaar moet saamleef sonder om enige wrokke rond te dra.
Ter inleiding merk Berenice op dat baie mense doelbewus in die verlede leef en met gelukkige herinneringe daarin slaag om die huidige druk en stres te verlig om dit te kan hanteer. Dan is daar ook dié wat droom oor die toekoms en vals wêrelde vir hulself skep en dan heeltemal uitmis op die seëninge, wat in die huidige plaasvind.
Berenice draai ook geen doekies om óf deel suikerklontjies uit nie. Die handleiding dring daarop aan dat dit wat vandag afgehandel kan word, moet gedoen word. Niks moet oorgelaat word vir die dag van môre nie. Môre kan dalk nooit plaasvind nie.
Groot gerusstelling kan gevind word in die daaglikse stukkie gewyde geskrewe én boodskappe.
Gemaklik
Die daaglikse gewyde stukkies is kort, kragtig, gemaklik om te lees en sal nie te veel tyd in beslag neem nie.
Die hardeband-weergawe is in 'n gemaklike groote van slegs 15cmx11cm. Berenice sê: "Ek wou dit spesifiek die groote gehad het om dit maklik te maak om in 'n vrou se handsak te pas."
Ook interessant is die dominante oranje kleur van die boek se omslag, wat die spirituele opwekking asook 'n ryk oes simboliseer. Sy het haar vreugde hieroor uitgespreek. "WOW, dit was glad nie so beplan,"het sy gesê.
Om die handleiding te bekom, kan Berenice per e-pos gekontak word by blwkogana@gmail.com.
Berenice dra verskeie baadjies. Behalwe dat sy 'n aanbieder op Eden FM is, organiseer sy ook vroue-konferensies waar sy dan ook as gasheer optree, sy doen ook motiveringspraatjies, is pastoor en doen ook pastorale berading. Sy is ook die stigterslid van The Myrtle Tree nie-winsgewende organisasie (NWO) terwyl sy ook op die raad van die Louis 57 Foundation dien. Dit is die beroepsgholfspeler Louis Oosthuizen se liefdadigheidsprojek. Berenice is ook 'n voormalige Mej Suid-Afrika finalis.
Dit is haar tweede boek. Haar eerste poging, Ek's uit - Moenie skroei nie, groei!, is in 2021 gepubliseer. -Vertaling behartig deur medewerker.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’