MOSSELBAAI NUUS - Een van die stalletjies tydens Danabaai se winter-ekspo het sy “lewe” te danke gehad aan Nellie Polley, 'n inwoner van die Hartenbos BADISA-aftreeoord.
Die vlytige tannie Nellie sit daagliks en brei helderkleurige blokke uit wol. Van hierdie blokke is aanmekaar gewerk en die mooiste komberse en kussingoortreksels is te koop aangebied.
Nie alleen is dit besonders om op haar ouderdom van in die negentig jaar oud nog so aktief te kan wees nie, maar ‘n verdere seën is dat die geld wat so geïn word aan die Makhatini-sending in KwaZulu-Natal geskenk word.
Die ekspo is van 17 tot 21 Julie in die NG Kerk Danabaai gehou. Volgende jaar sal daar weer so ‘n geleentheid gereël word. Nog komberse is te koop beskikbaar.
Kontak Luzette Jacobs (082 820 5029).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'