Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Agtjarige seun het as weeskind in die kombuis van 'n plaashuis in die Ruiterbos-omgewing begin werk.
Vanjaar vier hy as nederige Christen sy 50ste jaar op die plaas wat sy hele lewe verander het.
John (Kokkie) Daniëls (65), is in Riversdal gebore en het by 'n tante gewoon nadat sy ouers oorlede is. "Toe kom daar 'n barmhartige Samaritaan, Francis van der Merwe. "Dis asof die Here vir my gesê het 'hier is jou geleentheid, van hierdie geleentheid moet jy gebruik maak'," vertel Daniëls. Ek vra haar toe vir werk en sy het vir my gelag en gesê 'jy is nog te klein'." Die volgende dag het hy haar weer gevra. Sy het eindelik ingestem en so het hy, sonder om te weet wat om te verwag op die plaas Kana aangekom.
Mevrou van der Merwe het hom waardes, menswees, nederigheid en Christenskap, geleer waarvoor hy haar ewig dankbaar sal wees, meen hy. Sy dae van 'n weeskind wees, was verby en hy sien die Van der Merwes tot vandag toe nog as sy familie.
Tussen die ouderdom van 8 en 15 het Daniëls huistakies verrig in die Van der Merwe-huishouding en op 15-jarige ouderdom het hy buite op die plaas begin werk. Onder die hande van 'n bekende in Mosselbaai, oom Jimmy van der Merwe wat hom onder sy vlerk geneem het, word Daniëls 'n man uit een stuk. Sy "droom om te werk" word bewaarheid.
Kyk 'n video hieronder:
"Met 'n streng en regverdige werkgewer soos oom Jimmy, is daar nie 'n ding soos 'ek kan nie'," sê Daniëls. Ek het baie by hom geleer. Volgens Van der Merwe het hy oor die afgelope jare die plaas vele male in die hande van Daniëls geplaas, veral toe hy baie betrokke by die destydse Streeksdiensteraad en later by die Mosselbaai-munisipaliteit was. Op 'n dag praat hy met oom Jimmy en sê hy sal nou vir hom 'n huis moet bou want hy wil trou. Dit was Mei 1985 en op 30 Augustus het hy by sy nuwe huisie ingetrek.
Dertig jaar later verloor Daniëls egter sy geliefde Sally op 13 Februarie 2015 en sy dogter, Letitia, op 20 April 2018.
Daniëls is nou weer op sy eie, maar hierdie keer beslis nie soos toe hy as weeskind in Riversdal grootgeword het nie. Hy is geborge op die plaas Kana waar hy 'n familie het wat lief is vir hom en vir hom omgee.
Daniëls se besonderse 50 jaar reis op Kana is verlede week gepas gevier rondom die braaivleisvure en met sy uitgebreide familie.
John saam met sy plaasfamilie om die braaivleisvure ter viering van sy 50ste jaar as plaaswerker op die Van der Merwe's se plaas, Kana, duskant Ruiterbos. INLAS: John (Kokkie) Daniëls (65) op sy gelukkigste op die plaas Kana waar hy as jong weeskind 'n nuwe lewe begin het. Foto's: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'