MOSSELBAAI NUUS - Claudia de Jager, opvoeder by Ridgeview Primêr het verlede week na 38 jaar diens, die tuig neergelê. Wat dit so besonders maak is dat die graad 1 onderwyseres, die volle 38 jaar by dieselfde skool onderrig gegee het.
Haar loopbaan in die onderwys het begin by die Bellville-opleidingskollege waar sy destyds gestudeer het. In die 38 jaar het sy verskeie hoofde en kollegas gesien kom en gaan.
Sy het met 43 graad eens begin en afgesluit met 39 in 'n klas.
"Dit was my passie en so lekker as jy aan die einde van die jaar kan sien dat die graad 1-leerders kan lees en skryf en jy weet dit was jou werk," vertel sy.
De Jager en haar man Gerald, wat alreeds afgetree het, sê dat hulle twee nou die land gaan verken. Hulle was nou al in Mpumalanga en in Lesotho en sal graag deur die res van die land wil toer. 'n Bootreis is ook iets wat hulle graag wil doen. Hulle het twee dogters. Een is 'n rekenmeester en die ander 'n onderwyseres en is nou onafhanklik van ma en pa.
"Ek wil net leef om die verstand bietjie helder te hou en ek wil voluit leef," sê sy. Sy sê dat die Here voorsien en dat sy Maandag vir die eerste keer in 'n lang tyd so bietjie gaan stap het, sonder om aan werk te dink.
Sy het lank op die beheerraad en sportkomitee gedien. "In my looppbaan het ek baie geleer deur aan verskeie organisasies te behoort." "Mens raak net ryker in kennis as jy in verskillende organisasies dien en ek glo dat ek kan aftree met baie kennis van die onderwys."
Van vroegoggend tot laatmiddag het sy haar alles gegee vir die graad eentjies en nou is dit tyd om te rus.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'