MOSSELBAAI NUUS - 'n Platinumblonde pruik en een van sy ouma se bra's het vinnig vir Viaan Coetzee in 'n internetsensasie verander.
Hierdie Mosselbaaier (oorspronk-lik van George), en beter bekend as Meerkat Petra, het baie volgers op sosiale media opgebou met sy video's waarin hy Afrikaanse komediesketse opvoer terwyl hy as 'n vrou aangetrek is.
Voordat hy tot die komediewêreld toegetree het, het Viaan vir 15 jaar in die gasvryheidsbedryf gewerk, waar hy vyfsterhotelle bestuur en op superjagte in Madagaskar en dele van Europa gewerk het.
Die geboorte van Meerkat Petra
Nadat hy in 2023 uit Europa teruggekeer het, was Viaan op soek na iets om homself mee besig te hou.
Hy het toevallig 'n pruik in die hande gekry en nadat hy 'n bra uit sy ouma se klerekas geleen het, het hy homself as 'n vroulike karakter begin verfilm, wat hy op TikTok gedeel het.
Mettertyd het die karakter begin groei, 'n persoonlikheid en 'n naam gekry: Petra. Die 'Meerkat' was ietsie snaaks, 'n bynaam, omdat hy 'lank en slank' is, vertel Viaan.
"Ek het toe in 2024 weer 'n kontrak aanvaar om op 'n seilboot in Madagaskar te werk. Ek was vir vyf maande weg en het gedink wanneer ek terugkom, sou die karakter vergete wees. Ek was verbaas toe ek honderde boodskappe kry van mense wat vra, 'Wanneer kom Petra weer op 'n live?'. Ek moes toe die pruik afstof en haar terugbring," sê Viaan.
Hy sê hy het altyd 'n groot liefde vir komedie en toneelspel gehad. In 2021 het hy met teaterproduksies in die George Arts Theatre begin.
Teen 2022 het hy reeds in twee vertonings opgetree - een 'n Broadway-styl musiekspel en die ander 'n komedie, Tom, Dick and Harry.
Verhoogproduksie
Hierdie jaar beweeg Meerkat Petra vanaf die selfoonskerm na die verhoog om vir die eerste keer in haar eie produksie, Plastiekwêreld, by ReedValley in Mosselbaai op te tree.
Viaan beskryf die produksie, wat op 29 Augustus gaan plaasvind, as 'n "komiese kyk uit Petra se perspektief na die wêreld waarin ons tans leef".
"Almal wil famous wees, en sal enigiets doen om daai status te bereik. Die mensdom het behep geraak met sosiale media en hoe hy homself weerspieël. Fake het die nuwe norm geword, en Petra is hier om dit reg te stel," verduidelik hy.
Die Mosselbaai-gemeenskap word uitgenooi om die aand saam met Petra deur te bring en toe te laat dat sy jou lagspiere kielie met haar unieke humorsin en flambojante persoonlikheid.
Omdat Petra nie skroom om haar opinie te gee nie, en altyd reguit praat, is die produksie nie geskik vir onder 18's en sensitiewe kykers nie.
Vir enigiemand wat ook komedie en teater wil doen, het Viaan hierdie raad: "Doen dit. Mense moet ophou bekommerd wees oor wat die samelewing van jou sal dink. Ons is almal mense en oor 'n 100 jaar gaan ons almal vergete wees.
"Ek haal altyd my gunsteling-komediant, Joan Rivers, aan - 'Die lewe is swaar, en as jy net vir 'n oomblik 'n grappie oor 'n slegte situasie kan maak en daardie persoon 'n blaaskans van die werklikheid kan gun, het jy iets bereik'."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’