ALBERTINIA NUUS - 'n Minderjarige verdagte is in hegtenis na die mesdood van Hennie Louw, 'n inwoner van Albertinia wat Sondag aan sy wonde beswyk het.
Na wat verneem word, is Louw vermoedelik met 'n kapmes aangeval en is sy liggaam op Sondag, 7 Julie in die straat gevind.
'n Sewentienjarige man is in verband met die moord in hegtenis geneem.
Dit het gevolg na 'n voorval van huismoles waarin die verdagte skynbaar sy suster met 'n kapmes gedreig het. Terwyl die polisie hierdie klagte hanteer het, is op Louw se liggaam in die pad daar naby afgekom.
Louw was alombekend in Albertinia waar hy vir geruime tyd onder meer as bestuurder van 'n bekende klerewinkel op die dorp gewerk het.
Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie. Die verdagte sou Maandag teen druktyd in die Riversdal-landdroshof voorgekom het.
Hennie Louw, 'n voormalige bestuurder van Pep Stores op Albertinia is Sondag vermoor. Begrafnisreëlings is nog nie beskikbaar nie. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'