MOSSELBAAI NUUS - Die gemeenskap op Tergniet, Groot-Brakrivier het laer getrek om 'n inwoner, Debbie du Preez nadat haar geliefde worshond, Fibi op Sondag, 21 Oktober vermis geraak het.
"Ons was besig om kaste by die huis in te sit en toe ek die honde wou kos gee, was Fibi nie by my ander twee honde nie." Debbie het die strate ingevaar op soek Fibi gesoek maar kon haar nie kry nie. "Ek kontak toe die Midbrak-buurtwaggroep en hulle het my verwys na die Midbrak-dieregroep en skielik het almal na Fibi begin soek."
Die Maandag het Debbie pamflette laat druk in haar soektog na Fibi. Dinsdag het verder gesoek. Teen Woensdag het sy plakkate van Fibi gemaak en dit oral by Klein-Brakrivier en Groot-Brakrivier opgesit, maar niemand het Fibi gesien nie.
"Teen naweek het ek op grondpaaie gery en steeds geen teken van Fibi nie. Een persoon van die buurtwaggroep, Paul Moller het elke dag saam met my gestap en hy het ook rondgery en oral na Fibi gevra."
Teen Maandag, 29 Oktober het Debbie gebid dat sy haar Fibi sal terugvind en daar is ook intussen 'n gebedsgroep vir dié worshond gestig.
"Dieselfde dag het die DBV my gebel en gesê 'n motoris het 'n swart worshond op die N2 tussen Klein-Brakrivier en Groot-Brakrivier gesien. Ek en Paul is dadelik soontoe en het op en af op die middelman van die snelweg geloop. Ons kon niks kry nie. Ons is terug huis toe en ek het my tekkies gaan aantrek en Paul en ek het weer na Fibi gaan soek."
Fibi word in 'n kombers toegedraai kort nadat sy gevang is. Hier is Debbie en kst Laurianne Botha. Die polisie was toevallig ook in die omgewing en het hand bygesit op die toneel.
Debbie sê Paul het met sy kierie en 'n rooi vlaggie al langs die pad geloop sodat hy motoriste kon waarsku indien Fibi oor die pad sou hardloop.
"Verlangs het ek 'n swart ding gesien wat soos 'n hasie gelyk het. Ons het op die WhatsApp-groep laat weet dat ons hulp benodig en voor ek my oë kon uitvee was daar nog mense. Een vrou, Hanja, het met haar man se grênd kar op die middelman gery soos wat sy ook probeer help het om vir Fibi te vang. Fibi het onder 'n doringbos ingekruip en Paul is daarin om haar uit te haal."
Behalwe vir 'n klomp bosluise was Fibi in 'n goeie kondisie. Sy was net erg verwilderd en is eers onlangs weer haar ou self. "Ek bedank almal wat my gehelp help. Die ondersteuning wat ek gekry het is oorweldigend. Hordes mense het my bygestaan. Paul het ook Fibi se hele veeartsrekening betaal. Ek het soveel nuwe vriende gemaak en Fibi is terug in my arms, dankie Here."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'