Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Eden Photographic Society (EPS), ‘n fotografieklub van Mosselbaai het op Saterdag, 17 Oktober ‘n nasionale digitale fotografiesalon van stapel gestuur.
Dít is ‘n fotografiekompetisie wat op nasionale vlak in Suid-Afrika vir alle fotograwe aangebied word.
Fotograwe ding hier mee vir medaljes, sertifikate van meriete en salon aanvaardings wat weer deel uitmaak van ‘n groter jaarlikse PSSA (Photographic Society of South Africa) kompetisie.
Daar is ses verskillende kategorieë waarin meegeding word, naamlik natuur (kleur), menslike portrette (kleur), landskappe (kleur), ope afdeling (kleur), fotojoernalistiek (monochroom) en ope afdeling (monochroom).
Die salondirekteur is Anton la Grange. Hy het in Oktober 2019 die eerste keer ‘n EPS-klubaand bygewoon en dadelik die moontlikheid van ‘n salon raakgesien.
Hyself spog met sewe honeurstitels in fotografie: drie APPSA (digitale kleur, digitale monochroom en fotojoernalistiek), drie DPSSA (digitale natuur, ope en monochroom) – almal van PSSA en een AFIAP (digitaal) van Fédération Internationale de l'Art Photographique.
Talle inskrywings
Anton en sy span wat verantwoordelik is vir die administrasie van die salon is in die wolke oor die meer as 4 200 inskrywings wat ontvang is.
Die beoordeelaars is tans druk besig met die beoordeling van die inskrywings wat van regoor Suid-Afrika ontvang is.
Die natuur afdeling word deur AFO (Afrikaanse Fotografiese Organisasie) in Pretoria beoordeel; menslike portrette deur Tygerberg Fotografiese Klub; landskappe deur GCC (George Camera Club); ope afdeling (kleur) deur Bosveld Fotografieklub in Modimole (Nylstroom); fotojoernalistiek deur CCC (Centurion Camera Club) en ope afdeling (monochroom) deur PPS (Pretoria Photographic Society).
Die uitslae sal gedurende die eerste week in November aan die deelnemers gestuur word. ‘n Uitstalling en prysoorhandigingsgeleentheid word daarna gehou.
“Soos almal in Suid-Afrika het die Covid-19 en gepaardgaande grendelstaat ook die EPS geraak. Tog het ons op ‘n digitale manier kontak met ons lede behou en selfs baie nuwe lede bygekry. Dit maak ons baie opgewonde en is vir ons ‘n bewys dat ons iets reg doen. Ons sien uit na ‘n wonderlike 2021,” sê Anton.
‘n Verdere prestasie wat EPS te beurt geval het was dat Anton onlangs verkies is tot een van die nege nasionale direkteure van PSSA. Hy sê fotografie is ‘n passie wat hy graag deel met ander. Vir hom is die lekkerste gevoel as hy sien hoe fotograwe groei, ontwikkel en sukses behaal. “Ons lewe in ‘n konstante veranderende wêreld, vandag se suksesse is môre se standaarde, so dit is ongelooflik belangrik dat jy aanhou leer, so ook in fotografie. As jy die dag tot ‘n besluit kom dat jy alles weet van fotografie, is dit die dag wat jy dadelik moet ophou foto’s neem.”
Fotogalery: Eden Photographic Society wenners
Oktober-byeenkoms
Die EPS se Oktober-byeenkoms is onlangs gehou. Wenners in die voorgeskrewe tema Water reversal photography, asook die ope afdeling aan te kondig, is soos volg:
Voorgeskrewe tema
- Junior wenner: Gerda Fouché se Striking Stripes.
- Senior wenner: Anton la Grange se Drops of Sunshine, naaswenners Danie Pretorius se One upside down, Elizabeth Nicholson se Red Elegance en Johan van Aarde se Water Magic.
Ope afdeling
- Junior wenner: Gerda Fouché se Catch of the day.
- Senior wenner: Danie Pretorius se Sunset Harvards, naaswenner Anton la Grange se This was my last warning.
Lede van die klub vergader elke tweede Dinsdag van die maand om 18:00. Alle belangstellendes en fotografie entoesiaste is welkom.
Vir enige navrae, kontak Anton la Grange (084 442 4442).
Anton la Grange se Drops of Sunshine.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'