MOSSELBAAI NUUS - Die polisie op Mosselbaai het hul hande vol gehad met 'n bloedige langnaweek.
Op Saterdag, 30 April is 'n 78-jarige inwoner, Lintie Matthee op die hoek van Cupido en Stadionstrate in Uitbreiding 8 deur 'n taxi doodgery.
Die voorval het om ongeveer 15:30 gebeur.
Volgens die polisie gee die taxibestuurder sy volle samewerking.
Die verdagte het na bewering op die toneel gestop, maar toe weer weggery.
Die Da Gamaskop-polisiestasie ondersoek 'n saak van strafbare manslag. Met die ter perse gaan was die dossier na die Mosselbaai-landdroshof gestuur sodat 'n beslissing vir moontlike vervolging geneem kan word.
Tiener steek broer dood
Op Sondag, 1 Mei is die polisie op Groot-Brakrivier na 'n woning in Green Haven ontbied.
Polisiekommunikasiebeampte, sers Laurianne Botha sê toe die polisie op die toneel kom, het hulle 'n 25-jarige man in die woning dood aangetref.
'n Voorlopige ondersoek dui daarop dat sy 16-jarige broer hom met 'n mes in die nek gesteek het.
Die broers was glo in die vroeë oggendure, om ongeveer 05:00 in 'n struweling betrokke toe die verdagte 'n kombuismes gevat en sy broer in die nek gesteek het.
Die slagoffer se identiteit word weerhou om die identiteit van die verdagte, wat minderjarig is, te beskerm. Volgens die polisie het die tiener nie meer skool gegaan nie.
Hy het op Dinsdag, 3 Mei in die Groot-Brakrivier-landdroshof verskyn op 'n aanklag van moord.
Die verdagte is in sy ouers se sorg vrygelaat en verskyn later die maand weer in die hof.
Andriena du Plessis, wat net die slag gehoor het toe Lintie Matthee (78) raakgery was, wys hier vir ao Kappie Kapp, polisiekommunikasiebeampte waar sy na die voorval op die kruising van Cupido en Stadionstrate gelê het. Foto: Jannie du Plessis
Skietdood
Die KwaNonqaba-polisie volg steeds leidrade op nadat 'n 24-jarige man in die oggendure op Maandag, 2 Mei in die rug geskiet is.
Polisiekommunikasiebeampte, ao Kappie Kapp sê die polisie is deur die gemeenskap na die toneel in Scholtzstraat ontbied.
Toe hulle op die toneel kom het die slagoffer, Lukho Nkebe met 'n skietwond aan die rug in die pad gelê.
Die polisie ondersoek 'n saak van moord.
Die omstandighede van die skietvoorval is nie bekend nie. Die polisie het op Woensdag, 4 Mei 'n 28-jarige verdagte by 'n woning op Asla Park in hegtenis geneem.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'