RUBRIEK - Op Dinsdag, 13 September het ek vroegoggend oudergewoonte by Die Punt in my voertuig na die see gestaar en eers vir ‘n rukkie oor die dag wat voorlê, besin. Terugskouend kon my gedagtegang opgesom word in een woord: hoopvol.
‘n Paar uur later staan ek met nat skoene op ‘n toneel waar die lykie van ‘n baba kort tevore in ‘n koelsak op die strand by Hartenbos gevind is.
Polisiebeamptes is reeds op die toneel en wag vir forensies. Die baba lê onder ‘n pienk lap en ‘n kleurvolle koelsak staan eenkant. Die see druis in die agtergrond. Dit is ‘n sonskyn, windstil dag. Vir ‘n oomblik kyk ek op en sien Mosselbaai wat in die verte soos 'n groot krokodil voor my uitgestrek lê.
‘n Polisiebeampte lig die pienk lap op en waarsku my om weg te kyk maar ek sien dit tog. ‘n Kaal baba. Half-lyf nog in ‘n nat swart sak.
‘n Verbyganger het die gruvonds in 'n kleurvolle koelsak ontdek.
Bier hoort in ‘n koelsak. Toebroodjies hoort in ‘n koelsak op die strand. ‘n Baba hoort nie in ‘n koelsak op die strand nie. My gedagtes dwaal en ek hoor hoe ‘n polisiebeampte aan ‘n ander sê: “Die liggaam was in ‘n pienk lap toegedraai, toe in ‘n Pick n Pay-inkopiesak, daardie sakke van materiaal wat jy kan koop, toe in ‘n swart plastieksak en toe in die koelsak.”
Die kinderliedjie, 'Gat in die Grond', maal deur my gedagtes.
Drabedjie
Forensiese beamptes kom oor die sand aangestap. Een van hulle het ‘n dra-bedjie in die hand. ‘n Baba hoort in ‘n dra-bedjie. ‘n Baba hoort nie alleen op die strand, kaal, toegedraai in sakke en toegerits in ‘n koelsak nie.
Hulle kniel by die toneel en ontbloot die liggaam. Ek skat seker so drie maande oud, maar ek kan verkeerd wees. Ek sien die armpie. Toe my kind so oud was, het ek haar babalyfie elke oggend na ‘n warm bad met room ingesmeer. Sy het op haar rug gelê en haar voetjies geskop terwyl sy my met verwondering aangestaar het. Haar arms het ek nes die res van haar lyf, ook met room ingesmeer. Daarna het ek vir haar ‘n skoon doek aangesit en haar warm aangetrek. Die beste deel van die ritueel was die optel van haar babalyf en die vasdruk daarna.
Die forensiese span tel die liggaam op en sit dit in ‘n wit plastieksak en in die dra-bedjie.
‘n Baba hoort in ‘n dra-bedjie. Ook ‘n dooie baba.
Terug by die parkeerarea by die riviermond kom 'n vrou van voor af aangestap. Sy stoot haar baba in ‘n stootwaentjie, verby die forensiese voertuig, in die rigting van die wandelroete. Hierdie baba lê veilig in ‘n dra-bedjie.
Ek weet nie wat iemand sover dryf om ‘n kaal baba in sakke toe te draai en in ‘n koelsak toe te rits nie. Al wat ek weet, is dat ‘n baba nie in ‘n koelsak hoort nie.