Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Nasionale boeremusieklegende en geliefde Mosselbaaier, die nimlike Allen Green is eindelik met sy jarelange beminde, Mara Gericke in die eg verbind.
Green het die knoop die dag voor sy 88ste verjaarsdag deurgehaak. Die paartjie, wat al 25 jaar saam is, het op Hoekwil buite Wildernis hul bruilof gevier.
Voor die huwelikseremonie is RSG se boeremusiekprogram, Vastrap wat om 14:00 op Saterdagmiddae uitgesaai word, gespeel. Die dominee wou sy boodskap bring, toe die lied Lief Mara op RSG in die kerk opklink.
Green, borrelend van geluk, het vandeesweek in 'n onderhoud met die Mossel Bay Advertiser verduidelik: "Dit is 'n lied wat ek saamgestel het. Net hierna het RSG die troumars gespeel en die aanbieder, Willem Viljoen het aangekondig: 'Okay Dominee, nóú kan jy begin'. Dit was te kostelik, omdat die gaste gesit en wonder het waarvoor wag hulle dan nou nog," vertel Green met 'n ondeunde laggie.
Die paartjie was vir agt jaar verloof.
"Ons ken mekaar goed," voeg hy voor die hand liggend by.
Fotogalery: Boeremusieklegende trou op 88
Deur die jare was Mara sy metgesel tydens sy optredes op plesierbote. Hy word veral as musikant gereken vir sy uitnemende vaardigheid op klawerbord en klavier. Daarbenewens bou hy konsertinas en herstel allerlei musiekinstrumente.
By navraag oor die twee se wittebrood, het Green gesê dat hulle net vir 'n paar dae weg was aangesien hulle oor die jare heen, "altyd saam op wittebrood" tydens hulle bootreise was.
Die trouplanne moes egter inderhaas aangepas word aangesien die verandering van die inperkingsmaatreëls na vlak 4 slegs drie dae voor die groot dag gemaak is. Hiervolgens is die gaste tot 50 beperk.
Die Greens sal twee tuistes hê. "Ek het 'n plek op Mosselbaai en ons het Mara se woonstel op George."
Mara en blommemeisie, Marizaan Strydom.
Allen Green en sy Mara, na jare saam, nou getroud.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'