MOSSELBAAI NUUS - Groot ongelukkigheid heers oor die vandalisering van infrastruktuur vir gestremdes op Diasstrand wat maar in Oktober 2020 ingewy is.
Die strandtoegang naby Twee Kuilen het onder vandale deurgeloop en omgekrapte lede van die gemeenskap het hulle misnoeë hieroor op sosiale media te kenne gegee.
Die strandtoegang is die resultaat van fyn berekening om die helling vir rolstoele net reg te kry, die draaipunte presies te pas en boonop dan by die veranderde strandvlakke aan te pas.
'n Verdere stukkie fyn vernuf wat vir die eerste keer op Mosselbaai ingespan is, is die gebruik van 'n ondergrondse filtrasiekamer (filtration chamber) waardeur die stormwater na die see herlei word.
Die loopvlak is eweneens geskik vir gebruik deur ouer persone vir wie trappe klim nie meer so gerieflik is nie.
Die projek, wat sowat R2.2m beloop het, behels onder meer 'n houtloopvlak in drie afsonderlike segmente wat met spesiale afwerking teen die elemente beskerm word. Die spesiale boumetodiek is daarop gemik om die struktuur in geheel teen golfskade te beskerm, maar helaas was dit nie bestand teen vernielsugtiges nie.
"Dis werklik jammer dat die vandale toegeslaan het en ‘n bate so plunder. Die nuwe strandtoegang is pas voor die somervakansie in gebruik geneem en volgens beduidende positiewe terugvoer van talle gestremde persone het dit hulle die kans gegee om ‘n groot droom te verwesenlik deur weer op die sand en selfs in die see te kan kom, vóór die strenger inperkingsmaatreëls aangekondig is.
"Mosselbaai-munisipaliteit doen ‘n beroep op die gemeenskap om die strandtoegang vir gestremde persone by die Twee Kuilen-strandgebied nie verder te plunder nie," het munisipale woordvoerder, Nickey le Roux, by navraag gesê.
Die munisipaliteit het intussen ‘n wag in die area ontplooi en die beligting by die toegang verbeter.
Sedertdien is nie verdere vandalisme aangemeld nie. Die toegang is ‘n dorpsbate en inwoners word versoek om enige ongerymdhede onverwyld deur te gee (044 606 5000).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'