MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit het Woensdag, 11 Julie met verteenwoordigers van die Aslapark-gemeenskap wat hul misnoeë met toestande en misdadigheid by die taxistaanplekke onlangs laat blyk het, vergader.
Die gemeenskap in die onmiddellike omgewing van die taxistaanplekke op die hoek van Crotzweg en Adriaansrylaan het vir die gemeenskap 'n ernstige probleem geword aangesien misdadigers en dwelmafhanklikes daar rondgehang het en die fasiliteite by herhaling gevandaliseer het.
Na 'n ter plaatse besoek aan die fasiliteite het senior munisipale personeel en die onderskeie direkteure in opdrag van die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, en die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee planne beraam om die probleme op 'n kort en mediumtermyn aan te spreek. Langtermynplanne word geraak deur die inwerkingstelling van die Aslapark-kliniek wat, wanneer dit in bedryf gestel word na raming 'n aansienlike noodsaak vir die taxistaanplekke tot gevolg gaan hê, asook die betrokkenheid van die onderskeie taxiverenigings.
Die oogmerk is om die afdeling vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling te betrek om te besin oor moontlike ekonomiese ontwikkeling in die omgewing van die taxi-staanplekke.
Die munisipaliteit het besluit om, voorlopig, alle deure en vensters van die bestaande gebou toe te messel en om die staalstruktuur met lemmetjiesdraad te beveilig sodat verdere vandalisme hokgeslaan kan word. Dakplate en verwyderbare elemente sal vasgesweis word om verdere verliese te voorkom. Dit kan, sodra nodig, weer oopgemaak word, maar intussen sal vandale nie meer toegang tot die perseel hê nie.
Die gemeenskap is ook die versekering gegee dat die nodige beligting voorsien sal word sodat vandale nie in of op die strukture kan skuil sonder dat hulle sigbaar is nie.
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal (met baadjie), die senior bestuurder in die kantoor van die munisipale bestuurder, mnr Colin Puren, direkteure en senior munisipale personeel het Woensdag met verteenwoordigers van die Aslapark-gemeenskap oor hul griewe betreffende die taxistaanplekke vergader. Foto: Nickey le Roux
Die gemeenskap, daarenteen, het aangedui dat 'n buurtwag in die omgewing baie effektief funksioneer, en straks van die fasiliteite gebruik sal kan maak terwyl tegelykertyd beveiliging van die perseel verseker kan word. Daarbenewens het hulle ook die hoop uitgespreek dat die staanplekke vir informele handel aangewend kan word in tye wat dit nie deur die taxis benut word nie.
Raadsheer Levendal het die groep gevra om met skriftelike voorstelle en bewyse dat die voorstelle die steun van die omliggende gemeenskap geniet, na die munisipaliteit te kom sodat dit oorweeg mag word.
Die groep, verteenwoordigend van die Aslapark-gemeenskap het hul dank teenoor die munisipaliteit uitgespreek vir die gespreksgeleentheid.
Lees 'n vorige artikel: Kragdiewe vasgevat in Asla
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'