MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit hou vol hy is op datum met sy pensioenbydraes aan die Suid-Afrikaanse plaaslike owerheid pensioenfonds (SALAPF).
Die Gesagsowerheid vir die finansiële sektor (FSCA) het op 22 November 'n lys vrygestel waarop werkgewers, wat agterstallig is met hul pensioenbydraes, verskyn. Mosselbaai-munisipaliteit is een van verskeie munisipaliteite wat op dié lys verskyn.
Die agtergrond van die aangeleentheid, sê die munisipaliteit, is dat SALAPF so ver as 2011 dagvaardings uit die hooggeregshof teen die George-munisipaliteit uitgereik het met betrekking tot agterstallige bydraes.
In 'n verklaring, uitgereik op 26 November, het die Mosselbaai-munisipaliteit die volgende uiteensetting gelewer:
Kort ná die dagvaardings teen George-munisipaliteit, het SALAPF dagvaardings uitgereik teen talle munisipaliteite vir hul versuim om verhoogde bydraes te betaal, insluitend die Mosselbaai-munisipaliteit, wat nege werknemers het wat lede van SALAPF is.
Die hof het ten gunste van die George-munisipaliteit beslis en bevind dat SALAPF versuim het om die bestaan van 'n besluit deur sy raad van direkteure, om die werkgewerbydraes te verhoog, te bewys.
SALAPF het toe die aksie teen die Mosselbaai-munisipaliteit in 2016 teruggetrek.
Sedert die terugtrekking het die munisipaliteit herhaaldelik aanmanings van SALAPF ontvang met betrekking tot beweerde agterstallige bydraes en 'n tweede werkgewers-tariefverhoging.
Die munisipaliteit betwis die beweerde agterstallige bydraes en die tweede werkgewers-tariefverhoging aangesien die vorige verhogings reeds deur 'n hof ongeldig bevind is. S
ALAPF het nog nie inligting verskaf dat die korrekte prosedure nou gevolg is vir die verhogings nie en dat daar 'n resolusie is wat behoorlik aanvaar is nie. Die munisipaliteit wil bevestig dat die pensioenfondsbydraes vir die nege betrokke werknemers ten volle betaal soos kontraktueel ooreengekom is.
Dit is met leedwese dat die munisipaliteit tans in dispuut met SALAPF is oor verhogings op die bydraes, waarop aanvanklik kontraktueel ooreengekom is op grond van die versuim deur SALAPF om te bewys dat die korrekte prosedure vir die verhogings gevolg is.
Sedert 2019 is die munisipaliteit se regsverteenwoordigers in kommunikasie, hoewel meestal eensydig, met SALAPF oor 'n dispuut met betrekking tot die beweerde agterstallige bydraes en die tweede werkgewers-tariefverhoging.
Tot op hede het die fonds versuim om op enige navrae te reageer om dié langdurige geskil op te los.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’