MOSSELBAAI NUUS - "Ek is tevrede dat Mosselbaai-munisipaliteit se bestaande voorsorgmaatreëls, kontroles, stelsels en prosesse verdagte transaksies aan die kaak sal stel en belastingbetalers gevolglik teen kwaadwillige optrede beskerm," het Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal in ‘n persverklaring gesê.
Dit volg nadat die munisipaliteit as voorsorgmaatreël transaksies waarby hul vorige finansiële hoof, direkteur Marius Botha sedert sy aanstelling betrokke was, deeglik ondersoek het nadat sy dienste op Donderdag, 7 September beëindig is.
Botha is op 28 Augustus in die Williston-streekhof 'n vonnis van vyf jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is op aanklagte van onder meer bedrog by die Hoogland Distrik-munisipaliteit, sy vorige werkgewer.
Beide ‘n ondersoekspan van die kantoor van die Ouditeur-Generaal, wat onder meer ‘n bedrogspesialis-ondersoeker insluit, en die munisipaliteit se gekontrakteerde interne ouditeure, doen op hierdie stadium ondersoeke na enige moontlike ongerymdhede, waarna hul verslae sal uitbring.
Hoewel die verslae afgewag word, blyk dit dat interne beheermaatreëls, kontroles en prosesse tog daarin geslaag het om die munisipaliteit teen moontlike onregmatige uitgawe en toekomstige verpligtinge te beskerm.
ARTIKEL EN FOTO: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUS REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'