MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai munisipale raad het op Donderdag, 25 Januarie tydens 'n spesiale raadsvergadering verskeie besluite van belang geneem:
Mos Jazz
Die raad het sy goedkeuring gegee vir die Mos Jazz-fees wat vanaf 22 – 25 Maart by De Bakke Santos sal plaasvind en hopelik 'n jaarlikse instelling sal word.
Die munisipaliteit gaan logistieke steun aan die organiseerders, Camissa Solutions bied.
In terme van Seksie 26 van die bywet op die beheer van strande is toestemming gegee vir die gebruik van 'n klankversterkingsstelsel asook alkoholverbruik op die strand vir die duur van die fees.
Daar is wel 'n aantal vereistes waaraan Camissa Solutions moet voldoen, onder meer voldoende sekuriteit, openbare aanspreeklikheid, en die Wes-Kaapse en munisipale verordeninge oor geraas.
Nuwe ouditkomitee
Die raad het goedkeuring verleen dat drie persone vir die volgende drie jaar vanaf 1 Januarie op die ouditkomitee sal dien, te wete ABJ Dippenaar (voorsitter, tweede termyn); PA Mokoka (eerste termyn); en JC van Wyk (tweede termyn).
Dit volg op 'n advertensie in die koerant vir persone met die nodige kwalifikasies en ondervinding om aansoek te doen.
Sesde skoon oudit
Mosselbaai-munisipaliteit het 'n sesde agtereenvolgende skoon oudit behaal vir die 2016/17 finansiële jaar.
Die raad het hul dank uitgespreek teenoor al die personeel wat deur hul toewyding en harde werk tot die toekenning bygedra het.
Elke werknemer sal 'n geskenkbewys ontvang as waardering vir hul harde werk en toewyding tot die gemeenskap en dienslewering.
Jaarverslag
Die raad het die oorsigverslag oor die 2017-jaarverslag goedgekeur.
Die oorsigkomitee het verskeie voorstelle gemaak wat ondersoek en oorweeg moet word.
Die raad het ook kennis geneem van die stand van die munisipaliteit se geldsake, onder meer die midjaarbegroting en prestasie-beoordeling, en die derde aanpassingsbegroting vir 2017/18 is goedgekeur.
Raadslede se toelae verhoog vanaf 1 Julie 2017.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'