MOSSELBAAI NUUS - Daar het 3 594 verkeersoortreders tussen Januarie en Maart in die munisipale hof voorgekom.
Buiten verkeersboetes is probleme met openbare oorlaste (katte, honde, geraas), die onregmatige afsaag van bome in munisipale groenstroke, die oprigting van onwettige strukture en afwykings van bouplanne ook deur die munisipale hof hanteer.
Dit blyk uit 'n verslag wat tydens die afgelope maandelikse raadsvergadering op Donderdag, 31 Mei voor die raad gedien het. Ingevolge die Grondwet is een van die funksies van die munisipaliteit om 'n gesonde en veilige omgewing te skep. Die doel van die munisipale hof is juis om hieraan uitvoering te gee. Weens die enorme werkslas by die Mosselbaai-landdroshof, dien die munisipale hof as addisionele hof vir die vervolging van verkeersoortreders en oortredings van munisipale verordeninge.
"Die Mosselbaai munisipale hof lewer 'n onontbeerlike diens aan die gemeenskap deur te verseker dat munisipale verordeninge, nasionale bouregulasies asook die verwerking van vertoës van munispale en provinsiale verkeersoortredings nagevolg word. Daar is verskeie verordeninge wat ten doel het om ordelikheid en netheid in die gemeenskap te verseker. Die munisipale hof volg dieselfde strafreghofprosedures ingevolge die delegasies wat aan die hof toegeken is," het die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren in 'n verklaring gesê.
Die staatsaanklaer van die munisipale hof het 'n delegasie van die nasionale vervolgingsgesag om oortredings van munisipale verordeninge, provinsiale en munisipale verkeersoortredings, nasionale bouregulasie-sake en gedelegeerde oortredings soos deur die senior staatsaanklaer voorgeskryf, te vervolg
Die munisipale hof beskik oor 'n voorsittende beampte oftewel landdros wat deur die departement van justisie aangestel is.
Die staatsaanklaer van die munisipale hof werk onder die beheer van die Mosselbaai-landdroshof se senior staatsaanklaer, maar verrig ook take as regsadviseur vir die munisipaliteit. Die munisipale hof beskik verder oor twee prosesklerke vir lasbriewe en die hantering van die administrasie, 'n tolk, 'n kassier, en 'n assistent vir die hofpersoneel.
Die munisipale hof spog boonop met 'n nuwe argiefstelsel vir die veilige bewaring van hofdokumente ooreenkomstig voorskrifte.
Vir enige navrae oor die vertoë proses, die munisipale verordeninge asook die werking van die munisipale hof, kan die aanklaer, mev Nanindi Slabbert gekontak word (044 606 5000 of per epos by nslabbert@mosselbay.gov.za).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'