MOSSELBAAI NUUS - ‘n Hawelose man het Maandagoggend, 3 Oktober sy rieme styfgeloop toe munisipale amptenare hom voorgekeer het nadat hy ‘n motoris met klippe bestook het.
Die hawelose man het omstreeks 07:30 geld van ‘n motoris in Marshstraat geëis en toe die persoon weier, het die hawelose man hom en sy voertuig met klippe gegooi.
Die man het toe op die vlug geslaan in die rigting van die Mosselbaai-stadsaal. Soreya Draai, ‘n munisipale amptenaar wat ‘n ooggetuie van die gebeurtenis was, het alarm gemaak waarna drie ander amptenare, Dean October, Tommie Duiker en Simpihwe Kuse, die man voor die stadsaal vasgetrek en onder bedwang gebring het. Die man is deur die Mosselbaai-polisie van die toneel verwyder.
Die Mosselbaai-munisipaliteit versoek inwoners opnuut om nie geld of kos aan hawelose persone te gee nie. Daar is organisasies soos onder meer The Haven-nagskuiling waar hierdie persone deur opgeleide kundiges gehelp kan word.
Munisipale wetstoepassers werk hard om hawelose persone daagliks te verwyder wanneer hulle ‘n stoornis veroorsaak.
Die gemeenskap word egter versoek om kriminele oortredings wat deur hawelose persone gepleeg word, soos onder meer saakbeskadiging aan die polisie te rapporteer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'