MOSSELBAAI NUUS - Verskeie motoriste het by die Mossel Bay Advertiser gekla oor verkeersopeenhopings op Louis Fourieweg tussen die verkeersligte oorkant die Langeberg Mall en die verkeersligte oorkant die twee vulstasies.
“Die nuwe verkeersligte by Shell is ‘n gemors. Vanaf die Langeberg Mall se verkeerslig sukkel ‘n mens nou om in te draai by Shell by die nuwe verkeerslig. Die volgende verkeerslig is net so ‘n gemors, vanaf Bayview brug kan ‘n mens nie ry nie,” sê 'n motoris Andries Boshoff.
Nog 'n motoris, Helen de Jager sê: "Daar is nou drie verkeersligte in 'n bestek van een blok en al die voertuie hoop op."
Die Mosselbaai-munisipaliteit sê in ‘n verklaring wat verlede week uitgereik is dat hulle van die situasie by dié vulstasies bewus is.
"Tydelike padtekens is in die gebied geplaas weens padbou. Dit is deel van die Louis Fourie-opgraderingsprojek deur die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur," lui die verklaring.
Volgens die verklaring was die kontrakteur Vrydag op die terrain gewees om aandag te gee aan die kwessies wat ondervind word.
“Aksies sluit in die verbetering van die sinkronisasie met die ander padtekens op die roete."
Munisipale verkeersdienste sal by sleutelkruisings, soos die R328 by Hartenbos Heuwels, ontplooi word om verkeersvloei te bestuur.
“Daar word verwag dat hierdie tydelike reëling vir die volgende ses maande in plek sal bly.”
Motoriste word aangeraai om alternatiewe roetes soos die N2 te oorweeg, indien en waar moontlik, om bykomende reistyd by hul reis te voeg, en om geduld aan die dag te lê terwyl hulle bestuur gedurende veral spitsverkeerure.
Die munisipaliteit het omverskoning gevra vir enige ongerief wat veroorsaak is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’