MOSSELBAAI NUUS - 'n Inwoner van George en lid van die Renegades-motorfietsklub was Saterdagoggend, 15 Februarie op Mosselbaai in 'n botsing betrokke in Louis Fourieweg nadat 'n verkeersvoertuig na wat verneem word 'n U-draai gemaak het.
Nelis Bezuidenhout, het met sy motorfiets teen die voertuig gebots en is op die toneel deur paramediese personeel behandel en na die hospitaal geneem vir behandeling.
Bezuidenhout het verskeie beserings in die ongeluk opgedoen. Hy is na die Mediclinic in George oorgeplaas aangesien hy vermoedelik bloeding op die brein opgedoen het en ook sy gewrig en vingers beseer het.
Bezuidenhout is onder verdowing geplaas. Teen Maandag het sy pa op 'n WhatsApp-boodskap gesê dat dit beter met hom gaan. Hy het ook gese dat Bezuidenhout nog deurmekaar was en dat hy niks van die ongeluk kan onthou nie. Volgens inligting het die breinbloeding gestop en is Bezuidenhout in staat om te kommunikeer. Hy sal egter geopereer moet word vir die beserings aan sy hand.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'