Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Sowat 35 vroue motorfietsryers van die Mosselbaai-omgewing het Saterdag, 6 Mei, vir die eerste keer deelgeneem aan die 17de Internasionale Vrouemotorfiets-saamtrek, wat wêreldwyd gehou is.
Volgens Annalie Jacobs behels die dag se gebeure die opheffing van vroue.
FOTOGALERY: Die vroue motorfietsryers van Mosselbaai
"Dit gee ons vryheid. Dit wat 'n man kan doen, kan ons net so goed doen. Dit gaan nie net oor motorfietsry nie, dit gaan oor die vrou as 'n geheel. Vroue moet nie gesien word as wesens wat net voor die kospotte moet staan nie.
"Ons bedryf ons eie besighede, ons is mamma's, ons is vroue vir ons mans, maar ons geniet ook die vryheid, wat motorfietsry aan ons bied," het Louise van der Merwe wat reeds 23 jaar motorfiets ry, gesê.
Die jonge dame het besluit haar fiets is net so goed soos die groter ysterperde agter haar.
Dinette Wessels vertel dat dit haar eerste saamtrek was, maar dat sy al baie lank met veldfietsry betrokke is. "Dit is baie lekker, dit laat mens se hart vinniger klop. Vir so 'n klomp vroue om bymekaar te kom, om mekaar emosioneel en in besigheid te ondersteun, is waaroor dit alles gaan."
Liza van Dyk is al 40 jaar deel van die motorfietsgemeenskap. "Vir my as vrou is dit 'n passie en ek geniet die vryheid op die oop pad en die samesyn met ander motorfietsryers. Lize het tydens die Covid-inperking 'n fondsinsameling gereël om die Aquarium Shark Lab by die Punt te help wat finansieel gesukkel het. 350 motorfietsryers uit die omgewing het opgedaag om om die Punt te ry en geld geskenk. Sy was ook aan die voorpunt van 'n petisie wat aan die burgemeester van Mosselbaai oorhandig is, nadat 'n jong vroulike motorfietsryer sowat 18 maande gelede by die onwettige ingang by die hofgebou, gesterf het. Liza verduidelik dat die Internasionale saamtrek 'n bewustheid skep vir vroulike motorfietsryers.
Marlene Cilliers, 'n boervrou van die Kalahari, is nou sowat 'n jaar op Mosselbaai. Sy het besluit om 'n "sportster" fiets te koop, wat sy in 'n driewiel-fiets omgebou het. Sy toer graag alleen en voel die paaie en omgewing is baie veilig.
"Ek verken die wêreld en het nou Route 62 gedoen. Saamtrekke soos dié is belangrik vir bewusmaking rondom dié aktiwiteit. Dit gaan ook oor vroueregte, want party klubs laat nie vroue toe nie.
Die samesyn is lekker. Ons is 'n klomp enkellopende vroue wat ander mense wil leer ken en nuwe vriende maak."
VIDEO - Vroulike motorfietsryers van die Mosselbaai-omgewing neem deel aan internasionale saamtrek.
VIDEO - Marlene Cilliers, eens boervrou van die Kalahari en haar driewiel-motorfiets verken die Suid-Kaap.
Marlene Cilliers is nou ‘n jaar in Mosselbaai en geniet dit om op haar eie die omgewing te verken.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’