Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Mosselbaaier, Morné Grundlingh (22) het Sondagaand omstreeks 20:30 op die N2 regoor die ou Tau Bricks-fasiliteit naby die Danabaai-afrit met sy Kawazaki Ninja 1100cc-motorfiets verongeluk.
Volgens die KwaNonqaba-polisie blyk dit dat, nadat Grundlingh met die motorfiets geval het, hy op die ryvlak in die linkerbaan van die N2 beland het, waarna 'n voertuig hom skynbaar getref het.
Dit het op die toneel voorgekom asof Grundlingh oor 'n redelike afstand kon gesukkel het om sy motorfiets te beheer, waarna die ongeluk plaasgevind het.
Na wat berig word, het die bestuurder van die voertuig wat die motorfietsryer getref het opgelet dat die motor wat direk voor hom gery het, skerp uitgeswenk het. Daar was egter nie kans vir die persoon wat die motofietsryer getref het, om self betyds uit te swaai nie.
Die nuus oor Grundlingh se heengaan is met skok op sosiale media begroet en talle mense het hul medelye met sy gesin, wat van Secunda na Mosselbaai verhuis het, uitgespreek.
Marius Venter het op die Mossel Bay Advertiser se facebookblad geskryf: "Totsiens my vriend. Ek wens ons het mekaar langer geken. Jy was 'n awesome pel. Ek sal jou nooit vergeet nie. Rus in vrede buddy."
Louise Botha het gesê: "RIP Morné vra elke keer vir Marius hoe dit met jou gaan en wanneer jul weer kom melktert eet, jy laat 'n groot leemte in my kind sowel as jou ouers en ons wat lief was vir jou se lewe. sal jou ondeunde glimlag altyd in ons harte koester."
Teen druktyd was begrafnisreëlings nog nie bekend nie.
Die ondersoekbeampte, sers Dominique Deuster (044 606 5600), versoek enige ooggetuies of persone met inligting oor die voorval om hom onverwyld te kontak.
Lees 'n vorige artikel hier: Motorcyclist dies in horror crash
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Hessequa nuus'