MOSSELBAAI NUUS - "Ons leef in 'n gewonde gemeenskap. Dit vind uiting in woede en frustrasie. Mense leef met wonde uit die verlede en die hede. Dit is nie alleenlik individuele wonde nie, maar ook dié van gemeenskappe, instellings en woonbuurte."
Só het prof Stephan de Beer van die Universiteit van Pretoria op 6 Augustus gesê by die toekenning van sertifikate in pastorale narratiewe terapie aan 11 mense uit die Mosselbaaise gemeenskap.
Narratiewe terapie kan beskryf word as die proses om gebruik te maak van stories en die invloed wat stories op ons lewens het, waardeur ons tot nuwe insigte oor ons omstandighede kan kom en weer beheer oor ons lewens en omstandighede kan kry. Die 11 deelnemers het in 2016 begin met die kursus onder die beskerming van die Caritas-sorgentrum, 'n onafhanklike kampus van Coram Deo, Pretoria.
Die kursus het twee jaar geduur en bied na voltooiïng toegang tot magisterstudies. Hierdie kursus open geleenthede om die gemeenskap te dien en bied aan die student die kans om betekenis tot sy lewe toe te voeg deur ander mense te help.
In narratiewe terapie is jou eie storie die vertrekpunt en die ervaring waaruit jy kan put om ander mense in die helingsproses van hulle wonde te help.
Kursusgangers word aangemoedig om agente te word van genesing, verandering en geregtigheid.
Die geleentheid is ook bygewoon deur dr Elmo Pienaar, direkteur van Coram Deo, Pretoria, dr André Botha, die plaaslike kursusleier en dr Gerrie van Deventer van die NG Moedergemeente Mosselbaai, wat self die kursus deurloop het.
Die studente en hulle studieleiers wat in narratiewe terapie opgelei is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'